100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mpumalanga LUR gearresteer vir moord en poging tot moord

Written by on October 12, 2021

Mandla Msibi (45), die LUR vir landbou, landelike ontwikkeling en grondsake in Mpumalanga, het gister in die Nelspruit-landdroshof verskyn op klagte van dubbele moord en poging tot moord.
Hy het homself die oggend aan die polisie oorhanding. Hy is deur sy regsverteenwoordiger vergesel.
Volgens die nasionale polisiewoordvoerder, brig. Vishnu Naidoo, was Msibi betrokke by ‘n skietery in Mbombela op 22 Augustus waar twee mans doodgeskiet is, en een gewond is.
Daar is destyds berig hoe die slagoffers die aand met skietwonde in die straat aangetref is in die sakekern. Sindela Sipho Lubisi en Dingane Ngwenya is op die toneel dood verklaar, terwyl Sfiso Mpila gewond is en hospitaal toe geneem is.
Volgens die polisie is daar ‘n paar ure voor hul dood ook op die mans se voertuig geskiet. Hulle is toe nie gewond nie, en het die saak by die Nelspruit-polisie aangee.

Msibi is die derde verdagte wat in hierdie verband aangekeer word.
Joseph Charlie Ngwenya (35) en Tshepo Matsane (30) is op 17 September daarvoor in hegtenis geneem. Beide het reeds verskeie hofverskynings gemaak en is Vrydag borgtog van R20 000 toegestaan.
Msibi was aanvanklik ‘n raadslid in Mbombela-munisipaliteit, voor hy as die Speaker verkies is. Hy is in 2018 ingesluit in premier Refilwe Mtshweni-Tsipane se kabinet as LUR vir samewerkende regering voor sy hom in Februarie na die landbou-portefeulje geskuif het tydens ‘n kabinetskommeling.
Die premier sê sy beskou die aantygings in ‘n baie ernstige lig en sal na sy hofverskyning “gepaste aksie” neem.

Dit is nie Msibi se eerste botsing met die gereg nie. Volgens City Press is hy sedert 2018 van 10 misdade aangekla, onder meer poging tot moord en opsetlike saakbeskadiging. Hy is op alles vrygespreek.
Msibi doen vandag aansoek om borgtog.


×