100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Fikses proe ’n bietjie vryheid

Written by on May 4, 2020

Die aanbreek van die grendelstaat op 26 Maart was dalk nog ʼn bietjie meer frustrerend vir die fikses wat hou van ʼn vroegoggend draffie. Om nie eens te praat van beroepsatlete nie. Die verligting was groot toe die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, Nkosazana Dlamini-Zuma op Woensdag 29 Maart aangekondig het dat Suid-Afrikaners vanaf Vrydag 1 Mei toegelaat sal word om te gaan draf, te stap of fiets te ry binne ʼn radius van 5km vanaf hulle woonplek. Dit ook bloot net tussen 6 en 9 in die oggend. Daar mag ook nie in groepe geoefen word nie, was nog een van die streng voorwaardes.

Laevelders is in die bevoorregte posisie dat die son hier veel vroeër opkom as byvoorbeeld in Kaapstad waar dit eers teen 7:30 lig word. Plekke soos die Seepunt-promenade is oorval deur yweriges wat van die vergunning gebruik gemaak het om net in die buitelug te kom. Sosiale media is oorval met foto’s van ʼn opeenhoping van mense op verskillende promenades in en om Kaapstad. Gelukkig het dinge hier in die Laeveld baie beter verloop. ʼn Egpaar wat gedurende die vyf weke van inperking bloot in die erf moes oefen, is Belinda en James Potgieter. Sy vertel telefonies aan 100.5FM dat hulle presies 76 keer om die huis en die swembad moes draf om by ʼn afstand van vyf kilometer uit te kom. Dit het hulle stiptelike elke tweede dag gedoen. Belinda lag en sê die bure het aanvanklik gedink hulle is stapelgek, maar later het hulle die Potgieters van die ander kant van die heining af aangemoedig. “Vrydagoggend vyf voor ses het ons reeds by ons hek gereed gestaan, ons tekkies aan. Toe die klok sesuur slaan, is ons daar uit.

Ons woon in Steiltes en daar was talle ander mense wat geloop, of gedraf het of met die honde geloop het. Almal het gegroet en dit was net wonderlik. Ons het op Vrydag met ses kilometer begin en op Saterdag het ons dit na sewe kilo’s opgeskuif. ’n Mens het maar ʼn bietjie van jou fiksheid verloor. Ons hou streng by die reëls en oorskry nie die beperking van vyf kilometer van die huis af nie en draf met ons maskers. Dit is ook maar iets om aan gewoond te raak. Boonop wasem my bril ook nog toe, maar dit was alles die moeite werd,” sê Potgieter.

Ander Nelspruiters het ook die geleentheid om in daardie tydgleuf te kon oefen aangegryp en op Facebook hulle positiewe ervaring gedeel. Ben Wolmarans het vertel dat daar min stappers en drawwers was maar dat almal gegroet het. “Nelspruit het wonderlike inwoners,” het hy gesê. Jackie Maritz het ook nie op haar laat wag nie en agterna vertel dat dit lekker was om soos vroeg uit te kon wees. Hulle het boonop hulle jong hondjie saamgevat vir die draf en het uiteindelik byna vier kilometer afgelê. Dit was heerlik, sê al die flukses.


×