100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nkomazi toon groot toename in Covid-19-gevalle

Written by on May 4, 2020

Mpumalanga se gesondheidsdepartement lê die skielike toename in Covid-19-gevalle in Nkomazi-munisipaliteit voor die deur van mense wat nie by die inperkingsregulasies hou nie.
Nkomazi het die naweek ‘n groot toename in Covid-19-gevalle aangeteken. Saterdag was daar slegs 12, en Sondag 17. Van hulle het ses reeds herstel.
Die amptelike bevestigde gevalle van die virus in die provinsie het gisteraand op 46 gestaan – teenoor 35 twee dae tevore.
Geen sterftes is in Mpumalanga aangemeld nie.
Woordvoerder vir die provinsiale gesondheidsdepartement, Dumisani Malamule, sê dit is vir hulle duidelik dat inwoners van Nkomazi nie by die inperkingsregulasies hou nie en vryelik rondbeweeg, wat die toename in gevalle tot gevolg het.

 

Die ander groot toename in Mpumalanga was in Dr Pixley Ka Isaka Seme-munisipalitiet (rondom Volksrust).
Daar het gevalle vanaf agt Vrydag tot 13 op Saterdag vermeerder.
Malamule skryf dit toe aan die koue, aangesien die virus beter vaar in ‘n koeler klimaat.
Tot dusver is daar steeds sewe bevestigde gevalle in Mbombela waarvan vyf pasiënte reeds herstel het.
In ander plaaslike munisipaliteite is daar tans geen tot twee gevalle.
Provinsiaal het 18 pasiënte reeds herstel.

Volgens brig. Leonard Hlathi, provinsiale polisiewoordvoerder, sal hulle ‘n groter klem op polisiëring in Nkomazi plaas.
Hy maan egter dat alles nie van die polisie afhang nie, maar ook van mense se morele waardes om by inperkingsregulasies te hou.


×