100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Covid, storms plaas provinsie onder druk

Written by on March 5, 2021

Die Mpumalanga-premier, Refilwe Mtshweni-Tsipane, skryf die provinsie se relatief lae Covid-infeksiekoers toe aan die “unieke” benadering om wyks-gebaseerde spanne te gebruik om die virus se verspreiding te beperk.
Sy het vanoggend haar provinsiale rede gelewer.
Sy en die nuwe Speaker, Nkosazane Masilela, het vooraf ‘n kers aangesteek ter nagedagtenis aan die 1 271 mense wat aan die virus dood is in die provinsie.
Die amptelike herstelkoers staan op 97%.

Sy voeg by dat die ekonomie na verwagting met tussen 6% en 7% gekrimp het in 2020.
Toerisme, konstruksie, vervaardiging, vervoer en kommunikasie is van die ergste geraak.
Landbou kon egter werksgeleenthede skep gedurende die strengste inperking en het met 11% gegroei in die eerste nege maande van 2020.
Sowat 85 000 mense het in dié tydperk egter hul werke verloor.
Vir vanjaar word ekonomiese groei van 3% in Mpumalanga voorspel.
Toerisme is egter onder geweldige druk. “Voorspelings dui daarop dat die skok ‘n afname van 80% in internasionale toerisme teweeg kan bring,” sê sy.
“Baie werksgeleenthede is in die bedryf verloor en tot inentings elke hoek van die aarde bereik sal dit aanhou om uitdagings te ondervind.”
Om toerisme by te staan het die provinsiale regering R20 miljoen in die aangepaste begroting bewillig.
Mtshweni-Tsipane het ook onderneem om groter klem te plaas op samewerking met die private sektor om die God’s Window Skywalk, Makhonjwa-berge en treinspoor erfenis-projekte te ontwikkel.
Die onlangse vloedskade noop egter die provinsie om hul fondse te herprioritiseer. Dit word op R1,3-miljard beraam.

“Die uitwerking van beide die Covid-19-pandemie en die vloede het ons teruggesit en dit sal ‘n tyd neem voor ons ten volle herstel van hierdie onvoorsiene uitdagings,” sê die premier.
Infrastruktuurprojekte wat, alles ten spyt, onderweg is, sluit in Middelburg-hospitaal, Bethal-hospitaal, Mammethlake-hospitaal, Mapulaneng-hospitaal en Pankop-kliniek.
‘n Totaal van 54 sanitasie-projekte is vir die departement van onderwys afgehandel.


×