100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

MTPA waarsku teen krokodille in die Laeveld

Written by on March 5, 2021

Mpumalanga se agentskap vir toerisme en parke (MTPA) het Laeveld-inwoners gewaarsku om versigtig te wees rondom water, na ‘n groot klomp krokodille uit ‘n teelplaas naby Hazyview ontsnap het.
April Lukhele, bestuurder van die eenheid wat nakoming moniteer by die MTPA, sê een fasiliteit het weens die baie reën oopgebreek en van die diere het in die Sand- en Sabie-riviere beland.
Hulle het die eienaar van permitte voorsien om 160 te vang en te skuif. Veertig is reeds en die MTPA kon teen Donderdag ook 12 vang. Hulle is volwasse en groot genoeg om mense en diere te vang, sê Lukhele.

“Ons wil mense net waarsku om versigtig te wees want hulle is nie gewoond aan krokodille nie – veral nie in die Sandrivier nie.
“Die riviere is nie veilig nie. Selfs vir vee is dit beter om ander waterbronne te gebruik om die twee riviere te vermy.”
Hy voeg by dat mense rondom Kiepersol en Da Gama-dam ook versigtig moet wees, want krokodille kan baie vêr loop.
“Ons het ‘n paar jaar gelede ‘n krokodil gevind, 40 kilometer van die naaste water af.”
Verder, naby Driekoppies-dam is sand gemyn by Jeppe’s Reef. Weens die reën het water opgedam. “Ons het klagtes ontvang dat daar krokodille is. Ons het hulle probeer vang met hokke, maar kon nie. Die munisipaliteit vul tans die gate op met sand.
“Maar mense moenie in water speel nie. Krokodille klim soms uit riviere en in plaasdamme in. Boere in die Laeveld moet versigtig wees.”
Barberton het ook ‘n kleiner probleem met krokodille wat rondloop – in die pad of in tuine.
Enige krokodil kan aan die MTPA gerapporteer word by 013-759-5300 en 082-807-1057 of 083-626-6309 oor naweke.


×