100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Chimp Eden se sjimpansees is veilig… vir nou!

Written by on April 5, 2020

Alita Steenkamp

Chimp Eden, die veilige hawe vir sjimpansees buite Nelspruit op die Barbertonpad is ook swaar getref deur die impak van die koronavirus. Reeds op 17 Maart het die bestuur van Chimp Eden besluit om die hekke vir besoekers te sluit. Chimp Eden is ʼn gewilde stilhouplek vir plaaslike mense en ook baie oorsese toeriste wat in die Laeveld kuier aangesien sjimpansees ernstig bedreig word en baie na verwant aan mense is. Jana Swart, operasionele bestuurder by Chimp Eden sê daar is tans 33 sjimpansees wat hier versorg word in drie groot familietroppe. Die versorging is ʼn taak wat 24 uur per dag duur. Tans is daar ʼn span van agt wat na die sjimpansees omsien. “Ek, Stany wat ook ʼn bestuurder hier is en wat 30 jaar lange ondervinding met die versorging van sjimpansees het, en die ander ses personeellede word in kwarantyn saam met die 33 sjimpansees gehou. Ons gaan nie terug dorp toe nie en sal vir die hele tydperk van inperking hier bly,” sê Swart.
Sy vertel dat hulle tans in die gelukkige posisie is om nog genoeg kos vir die sjimpansees te hê. Sy is dankbaar vir die boere en die mense van die omgewing wat kos vir die diere skenk. Wanneer ʼn vrugteboer van sy vrugte met klein merkies of kneusplekke nie kan mark toe stuur nie, beland dit op Chimp Eden. Sekere supermarkte sal ook produkte wat se rakleeftyd verby is maar nog in ʼn goeie toestand is, as kos vir die sjimpansees skenk.
“Ons grootste vrees is dat die primate ook met die koronavirus besmet sal word. Daar is nog geen navorsing in die verband gedoen nie, maar daar was al gevalle waar sjimpansees aan menslike influensa gesterf het vanweë hulle baie lae immuniteitstelsel. Ons werk dus met maskers en handskoene om dubbel seker te maak. Die vrugte en groente wat geskenk word, word in ʼn bad met ʼn ontsmettingsmiddel gewas en dan in die koelkas gepak. Ons kan geen kanse waag nie,” sê sy.
Alhoewel daar tans genoeg kos is, sal dinge vorentoe beslis anders lyk. Sonder die hekgelde wat help om vir die operasionele kostes te betaal, gaan Chimp Eden vorentoe finansieel swaar trek. Tans moet die personeel wat die sjimpansees versorg ook kos kry. Enigeen wat ʼn skenking wil maak, kan op Chimp Eden se Facebookblad gaan kyk vir die rekeningnommer.
“Ons almal wat hier is, is gemotiveerd om hard te werk en ons heel beste vir die sjimpansees te doen,” sê Swart. “Al is dit harde werk, bly dit nou maar eenmaal wonderlike werk om te doen.” Besoek https://www.facebook.com/JGISA/


×