100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Barberton se damvlakke kritiek laag

Written by on September 17, 2020

Barberton se watervlakke is baie laag. Mbombela-raadslid Philip Minnaar skat dat die vlak van die dam wat die dorp van water voorsien, net onder 20% is.
Die meeste mense het nou slegs ‘n deel van elke dag water.
Inwoners van Barberton is geen vreemdelinge vir beurtwater nie. Voortslepende droogte bedreig reeds jare die dorp se watervoorsiening.
Die rantsoenering van water is verlede jaar ingestel. Minnaar verduidelik dat die area gelukkig ‘n bietjie reën gekry het aan die einde van die somer.
Die dam se watervlak het op ongeveer 25% gestaan en beurtwater is afgeskaf aan die begin van die grendeltydperk.
Toe die dam sowat 21% bereik, is beurtwater aan die begin van Augustus heringestel.
Water is daagliks in verskillende strate afgesny, sodat elke area weekliks ‘n beurt kry om nie water te hê nie.
Dit is egter nie meer moontlik nie en inwoners ervaar nou addisionele onderbrekings.
‘n Deel van Emjindini het glo reeds dae lank nie water nie. ‘n Watertenk is in die area ontplooi.
Verder het ‘n groot voerpyp na ‘n reservoir Donderdagoggend gebars, wat “die appelkar heeltemal omgegooi het,” aldus Minnaar.

Hy verduidelik die huidige situasie so: “Basies is daar te min water wat ons per dag kan suiwer om die volumes vir beurtwater reg te hou, so die skedule werk nie meer nie.
“Dit is nou krisisbestuur.
“Dit gebeur soms dat pype bars,” voeg hy by. “As ‘n hoofpyplyn soos hierdie (vanoggend) bars, verloor jy water en die reservoir loop leeg terwyl die pyp herstel word. Daarna neem dit weer tyd om die water by verbruikers uit te kry.”
Barberton se waterverspreiding hang ook af van gravitasie, nie pompe nie.
“Almal het elke dag water, dalk net in die aand of ‘n deel van die dag.”
Sy raad is dat mense baie spaarsamig met water omgaan – en hoop vir reën.


×