100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Toerisme verheug dat grense eersdaags mag heropen

Written by on September 17, 2020

Plaaslike toerisme het die nuus verwelkom dat Suid-Afrikaners Maandag in vlak 1 van inperking wakker gaan word.
President Cyril Ramaphosa het gister onder meer aangekondig dat internasionale reis eersdaags weer toegelaat sal word en dat die aandklokreël verkort word.
Dit is goeie nuus vir Mpumalanga se toerisme, sê die president van die Kruger-Laeveld-sakekamer, Oupa Pilane.
Toerisme is van onskatbare waarde vir die provinsie se ekonomie, en het baie skade gely tydens die grendelstaat.
Pilane wys egter daarop dit van kardinale belang is dat mense van die lande waarop die provinsie se toerisme staatmaak, toegelaat sal word.
Dié lys sal na verwagting binnekort deur die minister van toerisme aangekondig word. Daar word verwag dat reisigers van ander Afrika-lande eerste toegelaat sal word.
Pilane sê vir Mpumalanga is besoekers van Mosambiek en Swaziland in die top 10.
Van oorsee is dit Brittanje, Europa (veral Frankryk), Nieu-Seeland en Australië gevolg deur beide Noord- en Suid-Amerika.

Pilane stem saam dat daar al heelwat vroeër na vlak 1 geskuif kon word, maar hulle beskou dit as ‘n eerste stap en baie harde werk lê voor.
“Ons is dankbaar dat ons uiteindelik op hierdie punt is.”
Die verkorting van die aandklokreël na 00:00 en 04:00 daagliks help die bedryf ook baie.
“Suid-Afrikaners gaan eet eers 19:00 uit, maar restaurante moes om 21:00 reeds sluit sodat werknemers betyds huis toe kon gaan. Dit het ‘n groot impak gemaak op hul omset.”

Van die regulasies wat onder vlak 1 aangepas sal word:
Tot honderd mense mag ‘n begrafnis bywoon
Gimnasiums en teaters mag tot 50% van hul kapasiteit mense toelaat
Sosiale, politieke en geloofsbyeenkomste mag tot 250 mense binne of 500 buite toelaat
Staatsamptenare sal weer voltyds werk
Alkohol mag op Vrydae ook verkoop word
Toeskouers word steeds nie by sportgeleenthede toegelaat nie.


×