100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Klein Mienke Mulder sterf

Written by on September 17, 2020

Die drie-jarige Mienke Mulder is Woensdagoggend in haar ouerhuis in haar slaap oorlede.
Sy het drie jaar gelede die land aangegryp nadat sy ernstige breinskade opgedoen het.
Sy was sewe maande oud toe sy in 2017 by haar dagmoeder in Mbombela aan ‘n bottel melk verstik het.
Die gesin het intussen na Benoni verhuis. Sy het twee ouer sussies.


Die bruinoog-poplap was in haar kort lewe ‘n groot inspirasie vir ander. Haar ouers, Verna en Ryno, het kort na die voorval ‘n blad op Facebook gestig, Please Pray for Mienke. Dit het tans meer as 59 000 ondersteuners.
Haar ouers het haar ondersteuners gereeld op hoogte gehou van Mienke se toestand asook die drie verjaarsdae wat sy sedertien gevier het.
Na haar dood het Verna verskeie foto’s van haar jongste geplaas, met die inskrywing “How do we do it without you Mienks.”
Van die begin as is verskeie fondsinsamelings ook op die blad deur ondersteuners vir Mienke se mediese sorg van stapel gestuur. Een was die verkoop van armbandjies.
Karin Harmse het in die Kaap daarby betrokke geraak en in Januarie 2018 ‘n nie-winsgewende organisasie (NGO), Arms of Mercy, gestig.
Dit werk om fondse in te samel vir kinders met lewensbedreigende siektes se mediese sorg.
Sy verduidelik dat Mienke meer was as die inspirasie vir die NGO. “Sy was die fondasie van Arms of Mercy wat ander kinders help,” sê Harmse.

“Die impak wat sy op mense se lewens gemaak het, die mense wat sy op hul knieë gebring het, mense wat sy tot bekering gebring het en nader aan die Here, is net ongelooflik.”
“Sy het die wêreld aan haar voetjies gehad,” sluit Harmse af.


×