100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Baba Ayden is terug by die huis

Written by on October 28, 2021

Baba Ayden van Niekerk is uiteindelik terug by die huis in Lydenburg.
Hy was ses maande oud toe hy in Mei skielik ophou asemhaal het. Hy is intussen met brein-hipoksie gediagnoseer.
Ayden is gister uit die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg ontslaan.
Sy ma, Estelle, sê hulle is baie dankbaar om hom terug by die huis te hê. Dit is boonop net betyds vir sy eerste verjaarsdag wat hy Maandag vier.
Sy voeg by daar lê nog ‘n lang pad voor vir haar baba.

“Ons is baie verlig, maar daar is baie werk wat voorlê,” sê sy.
Estelle kon drie maande langs haar seuntjie se bed in die hospitaal spandeer. Sedertien werk sy, soos haar man, 10 dae aaneen, met vyf dae tussen-in af, wanneer sy vir haar baba kon gaan kuier het. Haar ma was by Ayden in die hospitaal terwyl sy moes werk.
Estelle verduidelik hy het 25% van sy breinvolume verloor. Hy kan nie uit sy linkerogie sien nie, maar dit behoort met laserbehandeling herstel te kan word.
Hy kry nog voeding deur ‘n buis in sy maag. Hy benodig spraakterapie om weer te leer drink en sy mondjie te vorm om in die toekoms te praat, arbeidsterapie om weer te leer sit en sodat hy eendag kan loop, en weer sy handjies leer gebruik sowel as fisioterapie vir die slym op sy bors en algemene beweging.
Hy sal Maandag dié behandelinge hervat saam met die span wat die hospitaal vir die Van Niekerks in Lydenburg bymekaar gesit het.
“My huis lyk soos ‘n hospitaal,” voeg sy by oor al die mediese toestelle wat Ayden benodig. Dit wissel van ‘n nebuliser en suurstof tot ‘n spesiale stoeltjie en bedjie.
“Dit is net die begin. Soos hy ouer word en groei sal hy meer benodig. Omdat Ayden so klein was toe dit gebeur het, sal ons net moet wag en sien hoe dit gaan.”
Hulle beplan ‘n verjaarsdagpartytjie vir hom Maandag.
“So baie mense wil deel wees daarvan. Mense het vir ons kolwyntjies en ballonne geborg, want hulle sê ‘n kind moet darem ‘n eerste verjaarsdag hê.”
Estelle wil nie baie mense om hom hê nie, omdat sy immunstelsel nie sterk is nie. “Hy raak ook baie vinnig opgewonde,” lag sy.
Die partytjie sal daarom op sy Facebook-blad, “Bid vir Baba Ayden” gestroom word.


×