100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Baba Ayden dalk môre na rehabilitasie-sentrum

Written by on July 7, 2021

Baba Ayden van Niekerk, wat twee maande gelede by die huis in Lydenburg skielik ophou asemhaal het, sal na verwagting môre uit die pediatriese intensiewesorgeenheid by die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg na die rehabilitasie-sentrum verskuif word.

Ayden is met HIE (hypoxic ischemic encephalopathy) gediagnoseer. Dit is ‘n tipe disfunksie wat ontstaan wanneer die brein vir ‘n ruk nie genoegsame suurstof ontvang nie. Sy brein het ook met tussen 20% en 25% gekrimp waarvan dele met sy beweging te make het.
Sy ma, Estelle van Niekerk, sê dat ‘n tweede MRI gister bevestig het dat sy hele brein skade gelei het.
Sy weier egter om moed te verloor.
“Aan die einde van die dag is dit ‘n stukkie papier en ‘n toets wat gedoen is, hier by ons op aarde en ek glo vas die Here het ‘n finale sê met klein Ayden en ook hoe hy met klein Ayden gaan werk,” sê sy.
“Ons het nou al soveel navorsing gedoen oor HIE en soveel wonderwerke gesien waar daar ook vir ouers gesê is hul kinders gaan breindood wees of die kind gaan altyd afhanklik van hul ouers wees, maar waar hulle al op 18 maande begin loop en kruip het.
“So ek weet nie regtig hoe om dit te hanteer op die oomblik nie, want hulle het nie regtig vir my ‘n pad vorentoe nie.”
Estelle verduidelik dat verstikking nie die oorsaak was dat hy ophou asemhaal het nie.

Estelle voeg by dat haar seuntjie alles wat hy in die eerste ses maande van sy lewe geleer het, van voor af sal moet baasraak. By die rehabilitasie-sentrum sal sy heelwat meer tyd saam met haar baba kan spandeer.

Sluit aan by die “Bid vir baba Ayden” groep op Facebook.


×