100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

ATKV-kuieraand maak terugkeer na grendeltydperk

Written by on October 6, 2021

Die plaaslike Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) se gereelde kuieraande maak aan die einde van Oktober ‘n terugkeer na die grendeltydperk.
Die organisasie beywer hulle daarvoor om die taal te bevorder en sal op 30 Oktober saamkuier by Mbombela-stadion.
“Ons is almal lief vir ons taal,” sê Anita Hitge, ondervoorsitter van die plaaslike tak. “Ons is Afrikaans en ons wil graag dit onder die publiek bekend hou dat Afrikaans nog bestaan.
“As jy weet jy behoort aan hierdie vereniging, probeer jy jou taal so suiwer as moontlik hou.”
Hitge verduidelik dat hulle nou eers die datum vir die kuieraand kon vasstel, weens die onsekerheid wat geheers het oor die verskillende vlakke van inperking.

Sy voorspel baie pret. Dit beloop R250 pp. Daarvoor kry jy ‘n driegangmaaltyd en bekende plaaslike sangers en boereorkes wat optree.
“As daar iemand daar buite is wat blootstelling wil hê, kontak my. Ek sal jou ‘n lied of twee laat sing,” voeg sy by. “Daar is so baie talent daar buite wat ons net nie sien nie.”
Tafels is ook beskikbaar teen R2 500 vir 10 of R3 000 vir 12 persone. Dit is ideaal vir jou maatskappy se jaareindfunksie, sê sy.
Elke tafel moet wel self gedek word – en volgens ‘n Afrikaanse liedjie wat dit uitbeeld. Gaste is natuurlik ook welkom om volgens dié lied aan te trek.
Die beoordeelaars moet dan raai watter lied uitgebeeld word. Die top-10 sal die geleentheid kry om hul lied op te voer, van waar die top 3 en uiteindelike wenner aangewys sal word.
Gaste kan uitsien na wonderlike pryse, beloof Hitge. Kontak haar by 082-333-8364 vir verdere navrae.


×