100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Alkoholverbod maak toe nie groot impak oor maande nie

Written by on August 24, 2020

Daar was aansienlik minder ongelukke op die N4-tolpad tydens inperking.
Volgens kommunikasiebestuurder van Trac N4, Solange Soares, toon hul syfers dat die afname egter ooreenstem met die minder verkeer op die pad.
Die regering se tydelike verbod op die verkoop van alkohol wat verlede week weer opgehef is, het wyd kritiek ontlok vir die negatiewe ekonomiese impak wat dit gehad het in terme van verlore belasting in die miljarde en duisende werksgeleenthede.
Soares sê dit het egter nie ‘n noemenswaardige impak op die ongelukke op hul roete gehad nie.

Volgens Trac was daar tydens die 36 dae van vlak 5 van inperking, 28 ongelukke, met vier sterftes teenoor die vorige jaar dieselfde tyd se 113 ongelukke met 10 sterftes.
“In April was daar sowat 75% minder verkeer op die hele roete as in April 2019. Ongelukke het ook met ongeveer 75% afgeneem,” verduidelik Soares.
“In Junie vanjaar was daar sowat 40% minder ongelukke en 52% minder verkeer as in June 2019.”
Tydens vlak 4 was daar 61 ongelukke, teenoor die vorige Mei se 109.
Die Mpumalanga departement van gemeenskapsveiligheid is egter bekommerd oor die groot aantal ongelukke wat die afgelope naweek in die provinsie plaasgevind het.
Dit was die eerste naweek sedert die tweede verbod op alkoholverkope opgehef is.
Volgens die departement se woordvoerder, Moeti Mmusi, is 48 ongelukke oor die drie dae aangeteken. Ten minste nege mense is dood. Vier-en-vyftig mense is ernstig beseer en 46 het ligte beserings opgedoen.
Volgens die departement het die meeste van die ongelukke in die aand plaasgevind.
Volgens Mmusi het die verslapping van inperking ten doel om die ekonomie te stimuleer. “Dit beteken nie mense kan doen wat hulle wil nie.”
LUR Gabisile Shabalala voer aan dit is ‘n teken dat mense nie by regulasies oor Covid-19 hou nie.
Sy het ‘n beroep gedoen dat diegene wat die veiligheidsmaatreëls verbreek, gearresteer moet word.


×