100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike skole al weke vooruit in skooljaar

Written by on August 24, 2020

Duisende leerlinge kon Maandag vir die eerste keer in maande terugkeer skool toe, maar plaaslike skole is al ver vooruit.
Verskeie staatskole in Mbombela en Witrivier het geruime tyd terug al aansoek gedoen om van die departement se voorgestelde datums af te wyk. Daarvolgens keer gr. 5 en gr. 8-leerders eers Maandag 24 Augustus terug na die skoolbanke.
Arrie Henn, hoof van Laerskool Nelspruit, sê hul kinders en onderwysers werk baie hard, en al hul leerlinge sal teen die einde van die skooljaar op 15 Desember, gereed wees om na die volgende graad toe te gaan.

Die skole werk op ‘n roteringsbasis waarvolgens slegs die helfte van die leerlinge daagliks fisies skool bywoon terwyl die ander afstandonderrig ontvang om sosiale distansiëring te handhaaf.
Die uitsonderings is die gr. R-kinders asook matrikulante wat voltyds skoolgaan.
Plaaslike skole sê ook hulle het genoegsame onderwysers. Die wat ouer as ‘n sekere ouderdom is, en diegene met onderliggende siektes, mag nie skool bywoon nie. Hulle behartig afstandonderrig terwyl addisionele onderwysers in klaskamers aangestel is.
By Hoërskool Rob Ferreira maak hulle ook reeds maande seker dat skool so normaal as moontlik voort kan gaan.
Dawie Oberholzer, die hoof, sê die onlangse skoolvakansie was hul enigste onderbreking.
Die LUR vir onderwys in Mpumalanga, Bonakele Majuba, sê sy departement glo dat alles gedoen is om ‘n gesonde leeromgewing te skep.
“Ons bedank graag al ons rolspelers en amptenare wat dit moontlik gemaak het. Ons vra gemeenskappe om aan te hou om ons skole te ondersteun om die beskerming van alle leerders en onderwysers te verseker.”


×