100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vuur verswelg deel van Letaba-kamp

Written by on September 10, 2020

‘n Reuse-brand het laat Woensdagaand in Letaba-kamp in die Krugerwildtuin ontstaan.
Die kamp word wyd beskou as ‘n groen oase in die omliggende mopanieveld, en is ‘n gunsteling onder besoekers aan die park.
Volgens SANParke is die winkel in die kamp en naburige televisiekamer vernietig. Daar word vermoed dat die brand in die winkel begin het.
Toeristeverblyf is glad nie geraak nie en niemand is beseer nie.
Volgens Ike Phaahla, woordvoerder van die wildtuin, is hulle kort na 20:30 van die vuur in kennis gestel.


Spanne van Olifants-kamp en Phalaborwa se brandweer is ontbied om te help en het die brand deur die nag bestry.
“Ons kan brande in noodgevalle bestry, maar hierdie vuur was reusagtig, en ons moes versterkings inroep,” sê Phaahla.
Dit is Donderdagoggend om ongeveer 02:30 geblus.
Die oorsaak van die brand is op hierdie stadium nog onbekend. ‘n Ondersoek is daarna geloods.
Volgens Phaahla moet ‘n onafhanklike span dit ondersoek.
“Ons het nie die kundigheid om dit self te doen nie.” Die ondersoek het reeds begin.

SANParke het die publiek deurlopend op sosiale media op hoogte van die situasie gehou. Hulle het Donderdag op Twitter geskryf dat werknemers en gaste van die kamp vanoggend geskok was deur die skade toe hulle ontwaak.
Die wildtuin het sover ‘n moeilike 2020 ervaar. Gaste is sedert die grendelstaat in Maart aangekondig is, nie toegelaat om dit te besoek nie.
Die Krugerwildtuin het in Junie weer heropen vir dagbesoekers. Verblyfgeriewe het in Augustus gevolg.
Kort daarna is vlak 2 van imperking aangekondig, en is interprovinsiale reis weer toegelaat.


×