100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Grip trek te velde teen regering se nuwe plan vir geslagsgeweld

Written by on September 9, 2020

Grip, die plaaslike organisasie wat kinders en slagoffers van geslagsgeweld bystaan, moes weens ‘n tekort aan befondsing onlangs vyf sorgkamers in polisiestasies sluit.
Drie nuwe wette is verlede week ter tafel gelê om geslagsmisdaad te beveg, en R1,6 miljard is daarvoor bewillig.
Grip voer egter aan dat hulle so min daarvan ontvang het, dat hulle nou net sorgkamers in die Nelspruit-polisiestasie en -hof kan bedryf. Volgens die nie-winsgewende organisasie se Barbara Kenyon kan hulle tans ook sorgkamers in slegs vyf hospitale in die provinsie oophou.

Grip het eens 11 sorgkamers by polisiestasies gehad, maar hulle kan dit glad nie meer bekostig nie.
Sy sê verder die nuwe wetgewing sal geen verskil maak nie: wat eerder benodig word is kapasiteit in die polisie, howe, hospitale en laboratoriums.
President Cyril Ramaphosa sê die nuwe wetgewing is in reaksie op mense se klagtes en voorstelle. Dit sal binne die volgende ses maande geïmplementeer word.
“Dit is bedoel om die gate te vul wat toelaat dat sommige oortreders die gereg ontwyk, en om die land se vroue en kinders hul volle regte te gee,” sê hy.
Daarvolgens sal seksuele intimidasie as ‘n oortreding beskou word en sal die Nasionale Register vir Seksoortreders die besonderhede van álle oortreders bevat – en openbaar gemaak word.
Die nuwe wetgewing sal dit ook bemoeilik vir aangeklaagdes om borgtog te verkry.
Die definisie van gesinsgeweld sal boonop uitgebrei word om ouer mense teen mishandeling deur gesinslede te beskerm.
Mense sal voortaan ook aanlyn om beskermingsbevele aansoek kan doen.
Verder mag mense wat mishandeling teen kinders, ouer mense of mense met gestremdhede vermoed, en dit nie rapporteer nie, voortaan gestraf word met boetes of selfs tronkstraf.
Kenyon sien min sin in die nuwe wetgewing. “Hoekom maak (Ramaphosa) nie wesenlike hulpbronne beskikbaar om die laboratoriums te help nie? Hulle benodig toerusting en mense.
“Dit is alles goed en wel om mense vir langer tronk toe te stuur, maar ons kan die oortreders skaars in die tronk kry.
“Jy het klein kindertjies wat vir meer as twee jaar moet wag om in ‘n hof te getuig én bo redelike twyfel te bewys daardie man het hulle op ‘n sekere dag verkrag. Hulle mag ook nie berading daarvoor ontvang tot hulle getuig het nie. Waar is die geregtigheid wat daardie sekondêre trauma hokslaan?
“Die polisie en departement van justisie doen niks om organisasies soos ons s’n te help nie. Die regering gee eerder geld vir die Nasionale Ontwikkelingsagentskap wat nie weet wie op die grond werk nie.”
Haar raad aan die president, om ‘n daadwerklike impak te maak, is eerder programme wat met jong seuns werk in kombinasie met stappe om dit makliker vir slagoffers te maak om misdade aan te meld.
“Bou kapasiteit in die polisie, howe, hospitale en laboratoriums.
“Soos my held Siya Kolisi sê, ‘As ons, ons seuns reg opvoed, hoef ons nie ons dogters te beskerm nie.”
Grip het kantore in Mbombela en Piet Retief. Bel hulle by 083-310-1321 in noodgevalle.
“Mense moet weet daar is altyd hoop,” sluit Kenyon af.


×