100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Voortvlugtige man gearresteer nadat hy homself skiet

Written by on March 1, 2021

‘n Man wat deur die polisie gesoek was, is gister aangekeer nadat hy homself geskiet het.
Die 31-jarige verdagte is op 19 Februarie deur ‘n polisielid na die stasie geneem vir ondervraging na ‘n vrou in Dullstroom doodgesteek is.
Die 33-jarige vrou se liggaam is in die vroeë oggendure dieselfde dag in ‘n plas bloed in ‘n hut in Sakhelwe naby Dullstroom gevind.
Die man het die beampte se dienspistool afgeneem en gevlug. ‘n Mannejag na hom is van stapel gestuur.
Hy het Sondag glo by ‘n huis ingebreek en homself geskiet toe die inwoners hom daar aantref.
Hy was gewapen met die polisielid se pistool en het glo ‘n venster gebreek om toegang tot die huis te verkry. Die polisie is ontbied.
“Ons het hom in ‘n plas bloed aangetref en besef hy leef nog. Paramedici is ontbied en het hom hospitaal toe geneem waar hy onder polisiebewaking is,” sê die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi.
Ammunisie is ook op die toneel gevind. Volgens die polisie word die verdagte ook verbind met ‘n gewapende roof in Dullstroom waartydens ‘n sakeman Vrydag van ‘n onbekende bedrag kontant beroof is.
Volgens Hlathi sal hy in die hof verskyn sodra hy genoegsaam herstel het.

Hy sal aangekla word van huisbraak met die bedoeling om ‘n misdaad te pleeg, die onwettige besit van ‘n vuurwapen en ammunisie, gewapende roof en gewone roof.
“Die polisie kan nie die moontlikheid uitskakel dat die verdagte ook aan ander sake gekoppel kan word nie,” sluit hy af.


×