100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vier Erfenisdag saam met Francois Jacobs en ‘Kaalgat Karel’

Written by on August 20, 2021

Die plaaslike akteur, Francois Jacobs, se jongste rolprent, “Kaalgat Karel”, sal volgende maand, op Erfenisdag, uiteindelik in Suid-Afrikaanse teaters begin draai.
Hierdie Laevelder speel die hoofrol van Karel, ‘n kaalnaeler, in ‘n produksie wat reeds verskeie pryse oorsee ingepalm het.
Toekennings sluit in beste rolprent en beste internasionale produksie by die Lit Laughs International Comedy Festival in Brittanje, die Skrywersgilde van Suid-Afrika (WGSA) se Muse-toekenning, beste rolprent by die Gelos Comedy Festival in Moskou en die prys vir die beste romantiese komedie by die Poor Life Choices Comedy Festival in Los Angeles.

Verfliming het verlede jaar geëindig net toe die inperking in Maart aangekondig is. Dit sou in Februarie vanjaar uitgereik word, maar is weens die pandemie en inperkingsregulasies vertraag omdat mense nie rolprentteaters mag besoek het nie.
Ondanks die titel, beloof Jacobs dat hierdie romantiese komedie familie-vriendelik is.
Dit vertel die storie van Karel, ‘n professionele kaalnaeler wat nog soos ‘n kind onverantwoordelik is op 30. Dit is tot hy dolverlief raak op ‘n paramedikus wat hom uit ‘n benarde situasie red.
Haar dogtertjie is besig om haar sig te verloor, en Karel besluit om kaal te nael om vir haar operasie geld in te samel.
Die rolverdeling spog ook met Christia Visser, Schalk Bezuidenhout en Sivuyile Ngesi.
“Kaalgat Karel” se regisseur is Meg Rickards wat dit saam met haar man, Paul Egan, geskryf en vervaardig het.
Jacobs is baie opgewonde om die rolprent met die land te deel op 24 September.
“Dit voel asof die hele wêreld dit reeds gesien het, buiten ons,” soos Sanett Oosthuizen tereg opmerk. Moet dit nie misloop nie.

*Foto: Francois Jacobs saam met Jack Parow, wat die temalied sing.


×