100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

VF+ loods petisie teen straatnaamveranderinge

Written by on November 13, 2023

Die VF Plus beplan om ‘n petisie te loods om beplande straatnaamveranderinge in Mbombela-munisipaliteit teen te staan.

Volgens VF Plus-raadslid, Ken Robertson, het die munisipale prosesse vir die hernoeming weer afgeskop na die raad aanvanklik in Februarie 2022 daaroor ingelig is.

Die 15 strate is in Barberton, Nelspruit, Witrivier en Hazyview.

Robertson sê die tydsberekening is verdag en dit dien geen doel buiten as ‘n verkiesingsfoefie vir die ANC nie.

“Daar was voorwaardes gestel dat die finansiële implikasies van die hernoeming van strate eerste met die raadslede gedeel sal word.

“Tot op hede was daar egter geen finansiële verwysings wat die koste aandui nie, maar tog het die munisipaliteit die proses nou afgeskop,” sê hy.

Die volgende strate is geïdentifiseer vir naamsverandering

Nelspruit: Piet Retiefstraat, Besterstraat, Andersonstraat, Brownstraat, Ferreirastraat, Henshallstraat, Ou Pretoriaweg en Voortrekkerstraat.

Barberton: Krugerstraat.

Witrivier: Danie Joubertstraat en Theo Kleynhansstraat.

Hazyview: Stormvoëlweg, Tarentaalstraat en die R40-hoofpad.

“Die munisipaliteit moet eerder fokus op ekonomiese groei buite sy tradisionele belastingbasisgebiede as straatnaamveranderinge.

“Enige geld wat gemors word… moet eerder bestee word aan dienslewering en infrastruktuur van landelike gebiede.

“Die finansieel-geknoude Mbombela sal geen baat vind deur straatname te vervang nie en sal slegs daarin slaag om bestaande geskiedenis te verwyder met die uitsluitlike doel om stemme vir die ANC in die komende 2024-algemene verkiesing te werf,” sluit Robertson af.

Sien ook: VF Plus sê Mpumalanga wetgewer is onder 50 jaar vloedlyn


×