100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Verskeie leerlinge wag nog vir plekke in skole

Written by on January 10, 2022

Heelwat gr. 1- en gr. 8-leerlinge wag nog om geplaas te word in laer- en hoërskole in Mbombela en Witrivier. Die akademiese jaar skop Woensdag af.
Volgens die provinsiale onderwysdepartement benodig 214 gr. 8’s en 213 gr. 1’s plek in Mbombela, en 33 gr. 8’s en 35 gr. 1’s in Witrivier.
Dit is heelwat minder as die 350 gr. 8- en 379 gr. 1-leerders wat nog in eMalahleni (Witbank) geplaas moes word. In Steve Tshwete (Middelburg) weet 79 gr. 8’s en 70 gr. 1’s nog nie waar hulle vanjaar skool sal gaan nie.
Daar is twee nuwe skole in Steve Tshwete-munisipaliteit gebou, wat vanjaar volledig operasioneel sal wees, asook ’n nuwe skool wat met mobiele klaskamers begin.
Volgens Lucy Moyane, departementshoof, het elke distrik ‘n toelatingspan wat saam met ouers en skole werk om te verseker elke leerling word geplaas. Die proses, sowel as die voorsiening van hul leermateriaal, behoort binne die eerste tien skooldae gefinaliseer te word.
Leerlinge sonder geboortesertifikate moet ook toegang verkry en skole word aangemoedig om saam met ouers en die departement van binnelandse sake te werk om die nodige dokumentasie vir hulle te bekom.
Om oorbevolking in skole te bekamp, is boukontrakteurs reeds aangestel om 40 nuwe klaskamers by vier laerskole in Mbombela aan te bou, aldus Moyane.
Haar departement werk ook nou saam met die provinsiale departement van openbare werke, paaie en vervoer om teen 2023 alle staatskole in Mpumalanga van behoorlike ablusiegeriewe te voorsien.

“Die mees kritieke kwessie hou verband met die instandhouding van hierdie strukture,” sê sy. “Ons moedig skole aan om alles binne hul vermoë te doen om na die fasiliteite om te sien.”


×