100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende renosterstroping-baasbrein in Hazyview vermoor

Written by on June 18, 2021

Die vermeende baasbrein van ‘n renosterstropingsindikaat, Petros Sidney Mabuza (57), is Donderdagmiddag vermoor.
Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice het die voorval bevestig.
Volgens hom was Mabuza om ongeveer 13:00 voor ‘n vulstasie in Hazyview geparkeer, toe ‘n swart VW Polo langs hom stilhou. Drie mans het uitgeklim en met AK47’s op hom gevuur voor hulle op die vlug geslaan het.
Mabuza was ook bekend as “Mashengo” en het noue bande gehad met die berugte Joseph “Big Joe” Nyalunga. Hul verhoor, saam met verskeie ander aangeklaagdes, op verskeie klagte verwant aan renosterstropery, ondermeer handel in renosterhoring, sloer al sedert hul arrestasie in 2018.
Die polisie sê hulle het ‘n soektog geloods na die verdagtes. Volgens woordvoerder, brig. Leonard Hlathi, is ‘n bejaarde vrou tydens die skietery getref. Sy sterk tans aan in die hospitaal.
“Geen arrestasies is nog gemaak nie, en die motief vir die moord is op hierdie stadium onbekend,” sê Hlathi.
Die waarnemende polisiekommissaris, maj. gen. Thulani Phahla sê niemand het die reg om iemand anders se lewe te neem nie, ongeag die redes.
Enigiemand met inligting is gevra om hulle te kontak by 086-001-0111.


×