100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermeende bedrieërs borgtog toegestaan in Komatipoort

Written by on September 3, 2020

Twee mense wat elk meer as 500 klagte verwant aan bedrog in die gesig staar, is Woensdag borgtog van R10 000 in die Komatipoort-landdroshof toegestaan.
Hugo Christiaan le Roux (41) en Rochelle Edith du Plessis Bekker (35) is dieselfde dag in hegtenis geneem deur die Valke se ondersoekeenheid teen ernstige kommersiële misdaad.

Volgens kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, word hulle van bedrog, diefstal en geldwassery aangekla.
Hulle sou glo ongeveer R1,9 miljoen gesteel het.
Daar word beweer dat Le Roux, ‘n bestuurder by Izusa Carriers, en Du Plessis Bekker, eienaar van HLR Contracting, tussen 2015 en 2018 saamgesweer het om die maatskappy te bedrieg.
Izusa bedryf ‘n vloot trokke regdeur die land sowel as in Mosambiek. Hul hoofkantoor is in Komatipoort.

Die beskuldigdes het glo vervoerdienste aan kliënte van Izusa verskaf, en belastingfakture aan die kliënte uitgereik met ‘n hoër tarief as wat werklik verskuldig was.
Volgens die Valke het Le Roux en Du Plessis Bekker die verskil in hul persoonlike bankrekeninge inbetaal.
Die saak is tot 20 November uitgestel.

Die Valke het ook die week sukses behaal deur ‘n ontsnapte gevangene aan te keer.
Die 23-jarige Norman Sylvester Mokoena, ook bekend as Dallas, is Saterdag in Bosbokrand aangekeer.
Hy is al sedert 8 Julie soek, nadat hy uit Calcutta-landdroshof se aanhoudingselle ontsnap het, nadat hy borgtog geweier is vir ‘n reeks gewapende rowe waartydens afleweringsvoertuie geteiken is in die Marite-omgewing.
Hy was, volgens die Valke, ook in besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie ten tyde van sy arrestasie.
Hy word nou aangekla van beide gewapende roof en ontsnapping uit polisieaanhouding. Hy sou na verwagting vandag weer voor die hof verskyn.


×