100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Tyd loop uit vir vuurwapen-amnestie: Alles wat jy moet weet

Written by on January 20, 2021

Vuurwapeneienaars het nog net 11 dae oor om onwettige vuurwapens by die polisie in te handig.
Die amnestie-tydperk eindig om middernag op Sondag 31 Januarie.
Enige vuurwapen waarvan die lisensie verval het, word as onwettig beskou, en dit is die rede waarom die wapens tydelik ingegee moet word.
Dit beteken nie dat jy jou wapen opgee nie. Eienaars sal hul wapens terugkry sodra hul nuwe lisensies goedgekeur is.
Die amnestie-tydperk gee vuurwapeneienaars bloot die geleentheid om uitstel te kry. Hulle word dus tot die einde van die maand nie gepenaliseer vir ‘n lisensie wat verval het nie, verduidelik die polisie se kol. Hugo van Rooyen.

Mense moet 90 dae voor hul lisensies verval, aansoek doen vir hernuwing. Vir handwapens is lisensies vyf jaar geldig, en vir gewere 15 jaar.
“Baie mense het bloot vergeet,” sê Van Rooyen.
Hy staan aan die hoof van die span wat in beheer is van die toets van elke wapen wat in Mpumalanga by polisiestasies ingehandig word.
Hulle het Woensdag wapens van Barberton tot Hazyview by Aim Training Academy in Witrivier getoets.


Hulle skiet met elke wapen ‘n skoot. Dié patroondoppie word geliaseer en Pretoria toe geneem om te bepaal of die wapen met enige misdaad verbind word.
Die wapens word direk teruggeneem na die stasie waar dit ingehandig is, en in ‘n kluis gestoor tot die eienaar dit weer kan kom afhaal.
Dit is ‘n baie noukeurige proses van papierwerk wat gevolg word van dat die wapen ingehandig word, tot die doppies by die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria aankom.
Die vuurwapens wat nie werk nie, of waarvan mense afstand wil doen, word in Middelburg geoudit, en daarna in Pretoria vernietig.

Die polisie waarsku egter dat, sou jy die amnestie-tydperk mis, jy aangekla kan word vir die onwettige besit van ‘n vuurwapen, en die moontlikheid bestaan dat jy onbevoeg verklaar kan word om weer vuurwapens te besit.
“Mense moet onthou ‘n pistool is ‘n semi-outomatiese wapen, waarvoor jy tot 15 jaar tronkstraf opgelê kan word – dieselfde as vir ‘n aanvalsgeweer,” voeg kapt. Herman van der Westhuizen by.
Onthou ook dat geen polisiestasie mag weier om vuurwapens te ontvang nie. Aanklagkantore kan egter nie die hele proses hanteer nie, so jy sal bes moontlik op ‘n latere stadium, tydens kantoorure, vir die hernuwing van jou lisensie aansoek moet doen.
Bewaar net die bewys van die inhandiging van jou vuurwapen soos goud, is die raad: Dit bewys jy het voor 1 Februarie daarvan werk gemaak om ‘n wettige wapeneienaar te wees, en jou kop behoort deur te wees.


×