100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Curro en Kings van more af ook gesluit

Written by on January 19, 2021

Curro sowel as die Gekombineerde Skool Kings in Witrivier het ingestem om van more af ook te sluit.
Mpumalanga se onderwysdepartement sê beide het heropen voor die departement van basiese onderwys (DBO) Vrydag aangekondig het dat alle skole eers op 15 Februarie mag heropen.
Die woordvoerder van die departement, Jasper Zwane, sê die twee skole het na gesprek met die departement ingestem om ook tot dan te sluit.
Dit is volgens hom die enigste gevalle waarvan die departement weet waar skole steeds oop was.

“Ons het die skole instruksie gegee om hul skedules in lyn te bring met die nuwe datums,” sê Zwane. “Ons waardeer hul samewerking.
“Ons moet almal saam verseker dat die gesondheidsektor nie onregverdig onder druk geplaas word nie.”
Ander plaaslike privaatskole sou ook verlede week heropen, maar het dit uitgestel tot 18 Januarie nadat pres. Cyril Ramaphosa vlak 3 van inperking verleng het. Hulle het dit verder uitgestel toe die DBO Vrydag hul aankondiging gemaak het.
Volgens die adjunkminister van die DBO, dr. Reginah Mhaule, het hulle die druk op die gesondheidstelsel van die afgelope weke in ag geneem met die besluit.
Skole se bestuurspanne moet op 25 Januarie by die werk aanmeld, en onderwysers op 1 Februarie, gevolg deur die leerlinge twee weke later, op 15 Februarie.
Mhaule het skole aangemoedig om dié tyd te gebruik om hul inname van leerders vir die jaar te finaliseer.
Hoewel die daaglikse nuwe gevalle van Covid-19 wat aangeteken word in die land en provinsie die afgelope 24 uur afgeneem het, bly hospitale onder druk.
Daar is nou 7 678 aktiewe gevalle in die provinsie, met net 521 wat die laaste 24 aangeteken is – minder as die meer as 1 000 nuwe gevalle wat daagliks sedert Donderdag bevestig is.



×