100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Toerisme rolspelers dring vreedsaam aan op kans om te heropen

Written by on July 21, 2020

Toerisme rolspelers wat Vrydag vreedsaam betoog het, deur stadig in konvooi te ry, beplan om Woensdag weer so te maak.
Woordvoerder vir die groep, Rika Venter-Coley, sê hulle wil bloot die kans hê om weer ‘n inkomste te kan verdien. Mense in die bedryf mag al vir maande nie werk nie, en ly honger.
Volgens Venter-Coley kan die bedryf stadigaan, en verantwoordelik, begin oopmaak.

“Al wat ons vra is om gehoor te word,” sê sy. “Gee ons ‘n kans. As enige industrie gereed is, is dit ons: Ons ontsmet en distansiëring word toegepas.”
Volgens Hylton Langley, wat die inisiatief begin het, dra toerisme sowat 8,6% van binnelandse bruto produk by, maar nou is hulle bedelaars.
Statistiek Suid-Afrika bereken dat dit die land R748 miljoen per dag in verlore inkomste kos.
“Duisende mense het vir vyf maande geen inkomste verdien nie. Ons is verby desperaat,” sê hy.
Hulle wil hê plaaslike toerisme moet so gou moontlik toegelaat word met internasionale besoek daarna.
Venter-Coley voer aan mense het reeds hul besittings begin verkoop vir kos. Baie se Ters-geld is nie betaal nie.
Hulle verkeer in so ‘n erge penarie dat sommiges nie eens die petrolgeld het om aan protesaksies deel te neem nie.
“Almal word dieselfde geraak. Of jy ‘n kelner, ‘n portier, ‘n gids, of ‘n eienaar is, almal word presies dieselfde geaffekteer en ons kan niks doen nie.”
Sowat 126 voertuie het aan Vrydag se protes deelgeneem. Die aksie is binne enkele ure gereël.
“Gee ons net ‘n bietjie sekuriteit,” voeg Venter-Coley by. “Gee ons ‘n datum sodat mense net weer geld kan maak om kos mee te koop.”
Woensdag se optog begin by Casterbridge in Witrivier. Almal kom om 09:30 bymekaar, waarna hulle met die R40 na die regeringsgeboue in Mbombela sal ry. Dit sluit af by die MTPA se kantore.


×