100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Toerisme nog erg onseker weens inperking

Written by on September 23, 2020

Dit is die eerste langnaweek sedert die land na vlak 1 van inperking geskuif het, en sommige plaaslike toerisme rolspelers is onseker presies wat om vanjaar te verwag.
Solange Soares, woordvoerder van Trac wat die N4 bestuur, sê verkeersvolumes behoort vanmiddag en môreoggend aansienklik te verhoog, maar dit sal waarskynlik heelwat stiller wees as verlede jaar se Erfenis-langnaweek.
“Ons is gereed vir baie mense op die pad, maar het geen idee hoeveel om eintlik te verwag nie. Ons is ‘n bietjie blind weens inperking, maar ons verwag nie dat dit so besig soos verlede jaar hierdie tyd sal wees nie,” sê sy.
Die woordvoerder van die Mpumalanga Toerisme en Parkeraad, Kholofelo Nkambule, sê waar mense nie vooraf bespreek nie kan hulle nie ‘n skatting waag nie.

“Ons kry baie navrae, maar by die meeste van ons fasiliteite kan mense net inloop, hulle hoef nie vooraf te bespreek nie.”
Sy kon nog nie bevestig hoe suksesvol verlede week se Nasionale Parkeweek was om besoekers aan te moedig om plaaslik te reis nie.
Mense kon tot Saterdag gratis toegang verkry tot nege van die MTPA se natuurreservate as deel van Nasionale Parkeweek – wat deel vorm van Erfenismaand.
Toegang was gratis by Manyeleti, Andover, Songimvelo, Nooitgedacht, Kromdraai, Loskop, Ohrigstad en SS Skosana gratis.
By Blyde River het gratis toegang slegs Saterdag gegeld. Nkambule sê dit is besonder gewild.
Volgens Lance Gibson van die Graskop-belastingbetalersvereniging wat ook ‘n onderneming in hierdie toerismedorp bedryf, is die beskikbare verblyf vir hierdie naweek vir die eerste keer, sedert die grendeltydperk in Maart aangekondig is, vol bespreek.
Graskop se ekonomie is grootliks van toerisme afhanklik, en dit is wyd verwelkom.


×