100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Tiere verskuif na veilige hawe nader aan natuur

Written by on May 26, 2021

Ban Animal Trading (BAT) was onlangs betrokke by die suksesvolle hervestiging van twee tiere.
Dr. Smaragda Louw sê die diere was amper verkoop aan ‘n plaaslike dieretuin, Pumbaa Wildlife Park, maar is toe eerder hervestig in ‘n veilige hawe waar hulle so naby moontlik aan die natuur kan leef met so min as moontlik menslike interaksie.
BAT is gekant teen enigiets wat teen diere se natuur gaan, soos wanneer mense hule aanhou vir eie gewin. Dit sluit in om diere te teel vir vleis en klere, te gebruik in laboratoriums of in sirkusse en dieretuine aan te hou.
“Dit gaan net daaroor dat hulle mense vermaak, en dit is nie die rede hoekom diere op hierdie aarde is nie,” sê sy van laasgenoemde twee. “Hulle het hul eie doel, hulle het hul eie sosiale sirkels en ons kan nie net vir hulle waarde gee omdat hulle vir ons finansiële gewin bring nie.”
Die twee tiere is besit deur iemand in Gauteng wat, in Louw se woorde, “wou doen wat reg is vir hulle”.
‘n Buurvrou van hul eienaar het BAT gekontak en hulle het besluit om die tiere eerder nader aan die natuur te hervestig.
“Tiere is nie inheems nie, en daar is nie ‘n verbod daarop om hulle te teel nie – jy kan hulle in jou tuin aanhou. Die probleem is dat veilige hawes vol is weens die teel van tiere en leeus in Suid-Afrika.”
BAT het Panthera Africa Big Cat Sanctuary in die Wes-Kaap gekontak, wat hulle in verbinding gesit het met Love Lions Alive in die Vrystaat. Hulle is toe sowat twee weke gelede suksesvol daarheen verskuif.
“Albei was dadelik baie gelukkig in hul nuwe kamp. Dit was pragtig om te sien,” sê Louw.
Louw voeg by dat dieretuine slegs bestaan om mense te vermaak en geen opvoedkundige waarde het nie.

Kontak [email protected] as jy ‘n probleem met diere se behandeling wil aanmeld. As BAT nie self kan help nie, sal hulle jou na die regte kanale verwys.


×