100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Thaba Chweu-kantore weer tydelik gesluit

Written by on March 15, 2021

‘n Groepie betogers het Maandagoggend weer Thaba Chweu-munisipaliteit (TCM) se kantore in Lydenburg tydelik gesluit.
Daar is egter nie betogings in die dorp nie. Die pad na Mashishing is volgens berigte wel gesluit.
Die munisipaliteit het die naweek aangekondig dat hulle nie sal voortgaan om inwoners wat agterstallig is met hul kragrekeninge, af te sny nie, na geweldadige betogings daaroor verlede week.
Munisipale woordvoerder Ezrom Sekgobela sê hulle het verwag die situasie sou vandag na normaal terugkeer.

Mense is uit hul kantore begelei. Hy sê die kantore is nou onder streng polisiebewaking.
“Ons was verras,” sê hy. “As mense ontevrede is met ons antwoorde op hul kwellinge kan hulle met ons kom praat.”
Volgens Sekgobela kan mense by hul kantore — wanneer dit weer oop is — of deur hul wyksraadslede reëlings tref om betalingsooreenkomste aan te gaan op hul agterstallige skuld.
Mense sonder werk en bejaardes is aangemoedig om aansoek te doen vir ‘n toelae vir hulpbehoewendes.
TCM het ook onderneem om bewerings van nepotisme in die toeken van kontrakte te ondersoek.
“Bewyse oor die beweringe moet gelewer word sodat ondersoeke gedoen kan word en aksie geneem kan word teen diegene wat daarby betrokke is.”
Die raad sal ook die verkrygingsbeleid hersien sodat 30% toegeken word aan plaaslike klein en medium-grootte ondernemings en kontrakte van meer as R200 000 behoort 30% vir subkontrakteurs in te sluit.
“Die gemeenskap is bekommerd dat HOP-huise gegee word aan mense wat dit nie verdien nie en munisipale werknemers,” lees die verklaring. “Ons is bewus daarvan, maar van hulle het dit bekom voor hulle deur TCM aangestel is. Van hulle woon in huise wat aan hul familielede behoort.”
Laastens moet die gebruik van sportgronde gekoördineer word tussen die gemeenskap en amptenare.


×