100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Staatsamptenare vasgetrek vir beweerde bedrog

Written by on November 10, 2021

Twee mans wat na bewering meer as R4,5 miljoen by die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gesteel het, het vandag in die Nelspruit-landdroshof verskyn.
Ronny Germany Ngwenyama (44) en Tinyiko Shadrack Golele (44) word van bedrog, diefstal en geldwassery aangekla.
Golele was na bewering in September 2018 ‘n projekbestuurder in die Mpumalanga departement van landbou. Hy sou met Ngwenyama saamgesweer het om met vervalste faktures namens drie gemeenskappe wat suksesvol grond geëis het betalings van die regering te ontvang.
Die Brown-, Makhatini- en Tlharesamadi-gemeenskappe se grondeis is glo goedgekeur sonder dat hulle daarvan ingelig is.


Golele werk tans in Polokwane vir die departement van landbou. Ngwenyama is die enigste direkteur van die maatskappy Frugasmart, wat ook aangekla word.
Volgens die Valke se kapt. Dineo Sekgotodi sal hul familielede wat ook in die geld gedeel het, na verwagting ook nog aangekla word.
Albei is borgtog toegestaan van R5 000. Die saak is uitgestel tot 4 Februarie.
In Ermelo, is ‘n assistent direkteur in die departement van binnelandse sake saam met twee immigrasie-beamptes gister aangekeer vir bedrog.
Pretty Ngomane (39), Khulekani Zulu (28) en Mavis Mthethwa (48) is vandag in die Ermelo-hof borgtog van R2 500 elk toegestaan.
Volgens die polisie se brig. Selvy Mohlala het die verdagtes na bewering in Januarie vanjaar betalings begin eis van buitelandse burgers wat in die area winkels bedryf, onder die voorwendsel dat hulle onwettig in die land is.
Die drie is aangekeer nadat hulle in ‘n lokval gelei is met gemerkte geld wat toe in hul besit gevind is. Hul saak is uitgestel tot 10 Desember.



×