100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Seun verdrink, luiperd van kant gemaak in NKW

Written by on July 18, 2022

SANParke het hul meegevoel aan die familie betuig van ‘n negejarige seun wat Saterdag in Skukuza in die Nasionale Krugerwildtuin (NKW) verdrink het.
Volgens die woordvoerder van die wildtuin, Ike Phaahla, het ‘n sekuriteitswag sy liggaam laatmiddag sien dryf in die swembad in die area vir dagbesoekers.
Hy het noodhulp toegepas, maar die kind, wat saam met sy gesin op besoek was aan die wildtuin, is op die toneel dood verklaar.
Sy identiteit word weerhou uit respek vir die familie.
‘n Luiperd is gister deur SANParke van kant gemaak, na ‘n werknemer in die Shalati-konsessie op pad werk toe aangeval is. Hy het terugbaklei en die dier het gevlug.
Phaahla sê hy het ernstige beserings opgedoen, maar dit is nie lewensbedreigend nie.
Veldwagters en die lugvleuel is gemobiliseer en die luiperd is van kant gemaak toe dit naby die toneel opgespoor is.
Daar word vermoed dat dit dieselfde luiperd is wat op 26 Junie ‘n werknemer by Skukuza-gholfklub aangeval het. Daar word verwag dat hy ten volle sal herstel.
Hoofveldwagter van die NKW, Cathy Dreyer, sê hulle probeer reeds sedert die vorige voorval om die dier te vang.
“Gegewe waar die voorval plaasgevind het, vermoed ons dat dit dieselfde luiperd is, maar ons kan nie seker wees nie. Inwoners en werknemers moet daarom ekstra op hul hoede wees en nooit alleen stap nie.”
Jerry Mabena, die uitvoerende hoof van Motsamayi Tourism Group wat Kruger Shalati en Kruger-stasie besit, sê hulle is geskok, maar verlig dat die werknemer oorleef het.
“Ons ondersteun sy fisiese en emosionele herstelproses ten volle. Hierdie dien om ons te herinner dat wilde diere in hul natuurlike habitat volgens die natuur optree. Ons bly respekvol dat ons in hul area teenwoordig is, terwyl ons die veiligheid van ons werknemers verseker.”
Die karkas sal deur die staatsveearts ondersoek word.
“Ons ondersteun die ondersoek deur SANParke om die rede vir hierdie ongewone gedrag te probeer bepaal,” sluit Mabena af.

*Foto ter illustrasie


×