100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ses veranderinge aan Pumas-span voor Curriebeker-afskop

Written by on November 27, 2020

Die Phakisa Pumas skop vanaand die Carling Curriebeker af teen die Cell C Sharks.
Pumas-afrigter, Jimmy Stonehouse, het ses veranderinge aan sy beginspan gemaak.
Die pienk truie se krukkelys is lank, maar Stonehouse sê hy is aangenaam verras met die span se diepte.

“Dit gee die volgende ou ‘n kans om in te kom en sy merk te maak en die ouens is so honger om te speel,” sê Stonehouse oor sy spankeuse.
“(Die baie beserings in die kamp) is sleg want jy wil kontinuteit hê en ongelukkig is dit voor die ongelooflike sterk Sharks wat ons met hierdie probleme is, maar ons gaan nog steeds uit om ongelooflike rugby te speel, soos ons elke week doen.”
Stonehouse voeg by dat die Pumas tevrede is met die tipe rugby wat hulle tot dusver hierdie seisoen gespeel het. Die Pumas kon die Vodacom Bulls verlede naweek keer om enige punte in die tweede helfte aan te teken.
“Uit die aard van die saak, as ons nie al hierdie beserings gehad het nie, dink ons dinge kon anders gewees het. Daar was twee of drie wedstryde wat anders kon verloop het.
“Maar wat vir ons lekker is, is ons sien ons diepte is nie so sleg soos ons altyd gedink het nie. Dit is meer die voorspelers waar ons nie so heeltemal tevrede met ons diepte is op die huidige stadium nie.”
Die Sharks is ‘n besonder sterk span en lê derde op die punteleer. Hulle het na die Vodacom Super Rugby Unlocked-reeks 19 punte teenoor die Pumas se sewe.
‘n Oorwinning vanaand sal die Sharks se vierde opeenvolgende wees. Die wedstryd skop om 19:00 op Kings Park in Durban af.

Die spanne is:
Phakisa Pumas: 15 Devon Williams, 14 Morne Joubert, 13 Erich Cronje, 12 Ali Mgijima, 11 Etienne Taljaard, 10 Theo Boshoff, 9 Ginter Smuts, 8 Francois Kleinhans, 7 Phumzile Maqondwana, 6 Daniel Maartens, 5 Pieter Janse van Vuren (kaptein), 4 Darrien Landsberg, 3 Ruan Kramer, 2 HP van Schoor, 1 Liam Hendricks. Plaasvervangers: 16 Marko Janse van Rensburg, 17 Wikus Groenewald, 18 Brandon Valentyn, 19 Heath Backhouse, 20 Chriswill September, 21 Wayne van der Bank, 22 Tapiwa Mafura, 23 Dewald Maritz.

Cell C Sharks: 15 Manie Libbok, 14 Yaw Penxe, 13 Jeremy Ward (kaptein), 12 Marius Louw, 11 Madosh Tambwe, 10 Curwin Bosch, 9 Sanele Nohamba, 8 Thembelani Bholi, 7 JJ van der Mescht, 6 Dylan Richardson, 5 Hyron Andrews, 4 Ruben van Heerden, 3 Thomas du Toit, 2 Kerron van Vuuren, 1 Ox Nche. Plaasvervangers: 16 Daniel Jooste, 17 Khwezi Mona, 18 Hanro Jacobs, 19 Zain Davids, 20 Sikhumbuzo Notshe, 21 Cameron Wright, 22 Werner Kok, 23 Sbu Nkosi.


×