100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ses gewoonte-oortreders vas weens onbetaalde boetes

Written by on November 11, 2020

Ses mense is sedert Saterdag in hegtenis geneem weens uitstaande verkeersboetes in Mpumalanga.
Die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid het benadruk dat dit heroortreders is wat nie hul boetes betaal nie, en dan ook versuim om in die hof verskyn.
Volgens die algemene bestuurder van die regulering van vervoer in die departement, Sibandiso Nkuna, is die 15 mense met die meeste lasbriewe vir hul inhegtenisneming, geïdentifiseer.
Die ses wat reeds aangekeer is, het die week verskyn vir minagting van die hof, asook hul onderskeie verkeersoortredings.
Nkuna hoop dit sal ander motoriste aanmoedig om die wet te gehoorsaam.
“Ons vind dat, wanneer mense die wet oortree en daar nie gevolge daarvoor is nie, hou hulle vol om dit te doen,” sê hy.

Die oortredings waarvoor die oorspronklike boetes uitgereik is, sluit in spoed, die oorlaai van voertuie en onpadwaardige voertuie.
Volgens die departement se woordvoerder, Moeti Mmusi, is 11 lasbriewe uitgereik vir Norman Mamba. Hy het uitstaande boetes van R23 500.
Hy is Saterdag in Matsulu aangekeer en het Maandag in die Komatipoort-landdroshof verskyn vir twee daarvan. Hy is ‘n vonnis van ses maande tronkstraf of ‘n boete van R3 000 en ‘n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê.
Hy bly egter in aanhouding en moet in verskeie ander howe, insluitende Tonga, Low’s Creek en Nelspruit, verskyn op nog sewe klagtes.
Delani Jabu Nkosi het in die hof in Carolina verskyn vir agt uitstaande lasbriewe vir R19 700 se skuld. Hy het R14 000 daarvan betaal en moet Dinsdag weer in die hof verskyn.
Mxolisi Ngcobela het agt klagtes teen hom en R8 400 se skuld. Hy het Dinsdag in Standerton verskyn en die geld betaal.
Vusi Mdluli het in die Witbank-hof verskyn vir vyf uitstaande lasbriewe en sy R6 000-skuld betaal. Sharon Beetge het ook haar R4 000 se boetes betaal nadat sy op vyf klagte in die Lydenburg-landdroshof verskyn het.
Nege uitstaande lasbriewe is op Timothy Manzini beteken. Hy het Dinsdag in die Nelspruit-hof verskyn. Hy sou na verwagting vandag weer verskyn.
Nkuna het motoriste gemaan om nie te wag tot hul verkeersboetes in lasbriewe omgesit word, voor hulle hul boetes betaal nie.
Nog arrestasies word verwag.
Nkuna het mense aangeraai om eerder na vore te tree.
Om te bevestig of jy uitstaande boetes skuld, kontak die departement by 013-766-1535 tydens werksure.


×