100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Gratis toegang tot die wildtuin volgende week

Written by on November 11, 2020

SANParke open volgende week hul hekke gratis vir alle Suid-Afrikaners.
SANParke vier Nasionale Parkeweek gewoonlik in September, toerismemaand, maar het dit vanjaar uitgestel weens die Covid-19-pandemie.
Van eerskomende Maandag tot Vrydag kan dagbesoekers egter gratis ingaan.
Die woordvoerder vir die Nasionale Krugerwildtuin, Ike Phaahla, raai mense aan om vooraf te bespreek, want besoekers sal weggewys word wanneer die park se kwotas bereik word.
Mense sonder besprekings sal toegelaat word hoe vroeër hulle by die hekke arriveer.
Hy voeg by dat vanjaar se Desember-vakansie nog ‘n ideale geleentheid is vir Suid-Afrikaners om die wildtuin te besoek.

“Noudat Suid-Afrika nie soveel besoekers van oorsee kan ontvang nie, is ‘n gulde geleentheid vir Suid-Afrikaners om die park te besoek, want gewoonlik is dit hierdie tyd van die jaar reeds maande volbespreek,” sê hy.
Die Krugerwildtuin kan ook nog nie hul volle kapasiteit besoekers akkomodeer nie.
“Ons is steeds in inperking. In sommige kampe kan meer eenhede gebruik word, maar ons getalle moet steeds onder die toelaatbare wees, om by inperkingsregulasies te hou. Dit geld veral in gedeelde ablusiegeriewe, restaurante en piekniekplekke,” sê Phaahla.
Om van die gratis toegang gebruik te maak, moet jy ‘n dagbesoeker wees en jou identiteitsdokument toon (tensy die kind jonger as 16 jaar oud is).
Groot groepe, oop safari-voertuie, toerbusse en oornagbesoekers sal nie van die gratis toegang gebruik kan maak nie.
Phaahla voeg by dat hulle die finale verslae van die ondersoek na die twee brande wat in September in twee kampe in die wildtuin uitgebreek het, teen die einde van die maand verwag.
‘n Brand het in Berg-en-dal-kamp se restaurant ontstaan. Dele van die kombuis en eetkamer is beskadig.
Minder as ‘n week tevore het ‘n brand die winkel en ‘n televisiekamer in Letaba-kamp verswelg. Niemand is beseer nie.
“SAPS se forensiese ondersoek dui daarop dat daar geen rede is om vuilspel te vermoed nie. Ons versekeraars se ondersoek is egter nog nie heeltemal afgehandel nie. Ons verwag dit teen die einde van hierdie maand,” sluit Phaahla af.


×