100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Riverside deel nuwe toekomsplanne na 25 jaar se sukses

Written by on May 7, 2021

Nog 600 residensiële eenhede word beplan vir Riverside.
Hoof uitvoerende direkteur van die Riverside City Improvement District (CID), James Aling, het Woensdag by die bekendstelling van die nuwe Riverside-handelsmerk ook planne gedeel oor hul biodiversiteit-inisiatief.
Om verwarring te vermy sal daar voortaan nie meer onderskei word tussen Riverside Industrial Park en Riverside Park nie. Die hele area sal net as Riverside bekendstaan.

Die hernude entoesiasme volg na ‘n jaar van die Covid-19-pandemie waarin menige ondernemings ‘n verlaging in handel ervaar het.
Volgens Aling het Riverside die afgelope 25 jaar op verskeie vlakke gegroei en ontwikkel en het hulle 2020 gebruik om nuwe lewe in die handelsmerk te blaas. Verskeie rolspelers, wat die eienaars van eiendomme en ondernemings insluit, is geraadpleeg asook konsultante wat spesialiseer op dié gebied.
Aspekte soos hoe sakelui besigheid ervaar, strategieë vir groei en die waarde wat besoekers uit die area kan put is in diepte ontleed.

Hy sê dit is vir die CID belangrik om ‘n goeie verhouding met Mbombela-munisipaliteit en die provinsiale regering (wat ook ‘n huurder is) te behou. Só sal die CID onder meer verantwoordelik wees om die verkeersirkel na Mbombela-stadion en die R37 na Lydenburg op te gradeer om ongelukke te verminder.
Ander planne sluit in die ontwikkeling van natuurlike areas met wandel- en fietsryroetes en hulle beoog om saam met die Universiteit van Mpumalanga indringerplante en -bosse te verwyder.
Hy sluit af dat hul missie en visie steeds is om ‘n nalatenskap te verseker wat meerdoelige sakebedrywighede bevorder, beleggingsgeleenthede skep en ‘n omgewing vestig waar inwoners veilig in ‘n netjiese omgewing saam kan leef.


×