100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Refentse hou Saterdag In jou huis konsert

Written by on April 23, 2021

Die tweede aflewering van die nuwe In jou huis-konsertreeks is hier. Môre is dit die immergewilde Refentse wat die gelukkige gehoor in die Laeveld gaan vermaak.
Die reeks van ses konserte word aangebied in samewerking met Innibos, kykNET en Radio Laeveld. Elke maand kom kuier ‘n ander bekende kunstenaar by ‘n Laeveld-inwoner se huis. Die gashere is deur Innibos gekies. Hulle nooi dan hul vriende om die vertoning by hul huis te kom kyk, maar weens Covid-19-regulasies is bywoning streng beperk.
Almal anders kan daarom die konsert regstreeks luister op 100.5FM.
Refentse vertel dat hy uitsien na die kleiner, meer intieme vertoning wat hy Saterdag verwag.
“Jy voel altyd meer naak as jy nie so weggesteek is nie. Nou kan jy elke ou in die oë kyk en hulle kan jou in die oë kyk. Dit laat jou ‘n bietjie geïntimideerd voel en dan kom die beste in jou uit,” sê hy.
Hy beloof ‘n uitstekende vertoning.

“Ek bring ‘n baie lekker show saam. Dit is ‘n bietjie lang tyd sedert ek laas in die Laeveld was, en ek dink ek skuld hulle ‘n lekker partyjie. So ek bring ‘n groot orkes, goeie musiek en lekker tye.”
By die eerste In jou huis konsert in Maart was Jo Black die kunstenaar. Al die gaste het geld bygedra. Die R3 000 is later aan Dasha Foundation geskenk.
Die volgende kunstenaars op die spyskaart oor die volgende vier maande is Elvis Blue, Jak de Priester, Roan Ash en Spoegwolf.
Maar eers begin Refentse se vertoning Saterdag om 19:00, net op 100.5FM.


×