100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pumas takel die nuwe uitdaging met positiwiteit

Written by on April 1, 2020

COVID-19 het die sportwêreld brutaal tot stilstand geruk. In Mbombela het die Phakisa Pumas ook nie die impak van inperking vrygespring nie. Tog kies hulle om hierdie bloot net as nog ʼn uitdaging te takel. Pieter Burger, hoofuitvoerende beampte van die Pumas Rugbyunie, sê in ʼn telefoniese onderhoud die rugbybedryf is wêreldwyd onder geweldige druk. “Op Dinsdagoggend 31 Maart het die Australiese Rugbyunie ʼn persverklaring uitgereik waarin hulle bevestig het dat 75 % van hulle mense op drie maande onbetaalde verlof geplaas is. Die ander 25 % se salarisse is met 50 % gesnoei. Op Vrydag 3 April is daar ʼn telefoniese konferensie met Jurie Roux, Hoof Uitvoerende Beampte van die Suid Afrikaanse Rugby Unie, waarin hy aan al die uitvoerende beamptes van die verskillende unies terugvoer gaan gee oor die pad vorentoe,” sê Pieter Burger.

Hy noem ook dat al die Mpumalanga spelers die geleentheid gebied is om die tydperk van inperking by ʼn plek van hulle keuse tuis te gaan. Die wat terug wou gaan na hulle ouerhuise en dit kon doen voor middernag op Donderdag 26 Maart, het so gedoen. Ongeag waar hulle die tydperk gaan deurbring, moet hulle sorg dag hulle fiks bly, sê hy.
“Ons biokinetici het ʼn program uitgewerk wat die spelers op hulle eie moet volg om seker te maak dat hulle fiks bly. Ons het selfs van die oefenapparaat vir die spelers geleen om tuis daarmee te oefen. Daar is van ons spelers wat huise of woonstelle deel, en dit maak dit dan makliker. Ons verwag van die spelers om dan terugvoer te gee aan ons mediese departement sowel as die krag- en fiksheid departement. Daar is konstante kommunikasie op verskillende groepe en die ouens stuur ook selfs grappies vir mekaar aan. Binne hierdie moeilike omstandighede kan jy eintlik niks meer as dit doen nie,” sê hy.
Die Phakisa Pumas sou nou aan die einde van April begin het met die Supersport-uitdaagreeks. In die openingswedstryde van die toernooi sou hulle tuis teen die Valke te staan gekom het.
“Ons hoop tog dat ons gou weer kan rugby speel, al is dit dan in ʼn geslote stadion,” sê Burger. “Dit sal wonderlik wees want dan kan ʼn mens die wedstryde uitsaai en die borge en die kykers wat honger is vir rugby, tevrede stel.”


×