100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Pumas hoop tuisvoordeel help teen Cheetahs

Written by on December 17, 2020

Die Phakisa Pumas het klein veranderinge gemaak aan die beginspan wat Vrydagaand die Toyota Cheetahs op tuisbodem pak.
Beide spanne benodig ‘n Carling Curriebeker-oorwinning nadat hulle verlede naweek nederlae gely het.
Die Pumas het met 14-28 teen die DHL WP op Nuweland verloor, terwyl die Xerox Lions die Cheetahs met 39-23 die loef afgesteek het.
Die besoekende Pumas was teen rustyd met net vyf teenoor agt agter. Hulle het ook naelskraap ‘n verloor bonuspunt gemis, toe die WP, reeds na die 80 minute verstreke was, hul vierde drie aan kon teken.
Volgens die Pumas se afrigter, Jimmy Stonehouse, is die spelers wat verlede week ‘n ruskans gegun is, more terug.
Phumzile Maqondwana begin op flank, met Darrien Landsberg wat uit is. Devon Williams begin weer in die no. 10-trui, nadat Tiaan Botes verlede week in hierdie posisie sy buiging gemaak het.
Stonehouse sê dit was nodige ervaring vir dié jong speler.
Hy voeg by dat hulle uitsien na die tuisvoordeel wat Mbombela-stadion die Pumas bied.

“Ons tuiswedstryde is baie beter. Ons sien baie uit daarna. Hulle het ook ‘n paar beserings (in hul kamp), wat dinge vir ons so ‘n bietjie makliker kan maak,” sê hy.
Rosko Specman sal onder meer nie speel nie.
Stonehouse is wel bekommerd oor moontlike reën, en die feit dat die Vrystaters Frans Steyn na losskakel geskuif het.
Die wedstryd skop om 19:00 by Mbombela-stadion af en word op SuperSport uitgesaai.



×