100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Vermiste veldwagter se oorskot moontlik gevind

Written by on December 18, 2020

Die polisie glo hulle het moontlik die oorskot van die vermiste veldwagter, Checkers Mashego (51), in die Krugerwildtuin gevind.
Hulle het Vrydag aangekondig dat hulle laat Donderdag op menslike oorskot afgekom het, nie ver van waar Mashego ‘n maand gelede vermis geraak het nie.
Mashego, ‘n ervare veldwagter, is laas op 17 November in die Stolsnek-area van die wildtuin gesien. Hy was saam met ‘n kollega op patrollie toe hulle net voor laaste lig verwittig is om iets langs die Nsilikazi-rivierbedding te ondersoek.
Hulle het uiteen gegaan en sou by ‘n brandstrook ontmoet. Mashego het nooit by die ontmoetingsplek opgedaag nie en sy kollega het alarm gemaak.
Sedertien word daar sonder ophou na hom gesoek.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, kol. Donald Mdhluli, het hulle items op die toneel gevind wat deur veldwagters gebruik word en wat moontlik aan Mashego kon behoort het.
Dit is voorheen bevestig dat hy ten tyde van sy verdwyning sy geweer, radio en selfoon by hom gehad het.
Die oorskot is vir forensiese analise gestuur. Mashego se familie is van die vonds in kennis gestel.

“’n Ondersoek oor presies wat gebeur het met die vermiste is tans onderweg,” sê Mdhluli.
Volgens die Krugerwildtuin se woordvoerder, Ike Phaahla, is die area afgesper en word dit tans deeglik ondersoek deur die polisie se forensiese span en SANParke se ondersoekende eenheid.
Die minister van omgewingsake, Barbara Creecy, sowel as die uitvoerende hoof van SANParke, Fundisile Mketeni, het hul ondersteuning vir die familie uitgespreek “in dié moeilike tyd”.
“Ons kan die publiek verseker dat ons alles in ons mag doen om die polisie in hul ondersoek te ondersteun, en te probeer verstaan wat moontlik kon gebeur het, sowel as om Mashego se gesin te ondersteun.”
Volgens Phaahla is dit die eerste keer dat iemand so lank vermis is in die wildtuin.



×