100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Poskantoor sê lang toue mense hou meestal by Covid-reëls

Written by on August 12, 2020

Lang rye mense is die afgelope paar dae voor plaaslike poskantore opgemerk.
Volgens Johan Kruger, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor, is dit hoofsaaklik mense wat die Covid-19 verligtingstoelaag van R350 kom afhaal.
Hy sê hulle hou meestal by die regulasies oor fisiese distansiëring.
Waar hulle soms te naby aan mekaar staan, gee hulle dadelik gehoor wanneer hulle gevra word om hul afstand te handhaaf.
Hulle het ook die polisie gevra om te help, deur mense te vra om weg van mekaar te staan wanneer hulle verby ry, omdat die poskantoor nie oor die mannekrag beskik om buite hul kantore toesig te hou nie.

Volgens Kruger kom baie mense in aanmerking vir die maandelikse toelaag, wat ten doel het om die impak van die koronavirus-pandemie en die staat van inperking te versag.
Hulle het daarom afsonderlike rye en toonbanke vir mense wat ander dienste verlang.
Volgens Kruger vind hulle dit maklik om die inperkingsregulasies op die poskantoor se persele af te dwing.
Hulle beperk die aantal mense wat op ‘n slag binne toegelaat word, en almal se temperature word gemeet en hul hande ontsmet met hul aankoms. Elke besoeker moet ook ‘n register invul.
Volgens die departement van maatskaplike ontwikkeling sal die verligtingstoelaag tot Oktober beskikbaar wees.
Om te kwalifiseer moet mense burgers, permanente inwoners of geregistreerde vlugtelinge wees wat in Suid-Afrika woon.
Jy moet verder werkloos en ouer as 18 jaar oud wees. Jy mag ook nie ‘n inkomste, ‘n maatskaplike toelaag, werkloosheidversekering of NSFAS-toelae ontvang nie.
Om aansoek te doen, stuur ‘n WhatsApp na 060-012-3456 of ‘n e-pos na [email protected].
Kruger voeg by dat daar tans ‘n agterstand in die ontvang van internasionale pos van tot ses weke is.
Dit is weens inperking wat die vervoer van goedere tussen lande uiters beperk het. Vervoerroetes is egter intussen herstel met die meeste lande, maar met die uitsondering van die VSA.
Posstukke wat na ander lande gestuur word is egter nie noemenswaardig deur inperking vertraag nie.


×