100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

KMI bly operasioneel ondanks af instrument-landingstelsel

Written by on August 12, 2020

Die Burgerlugvaartowerheid (BLO) het bevestig dat verskeie lughawens se instrument-landingstelsels afgesit is.
Maar, dit hinder geensins vlugte nie, sê Phindiwe Gwebu, bestuurder van korporatiewe dienste by die owerheid.
Instrument-landingstelsels se kalibrasie status het verval by O.R. Tambo-lughawe, Kruger Mpumalanga Internasionale (KMI) Lughawe, King Shaka Internasionale Lughawe en George-lughawe.
O.R. Tambo het egter steeds twee landingstelsels wat volledig operasioneel is.
By KMI, King Shaka en George sal vlieëniers bloot nie in swak weer kan land nie. Gwebu sê hulle is in kennis gestel en moet hul reistye fyn beplan.
Verder gaan vlugte by al die lughawens voort.

Volgens Gwebu het die kalibrasie verval weens vertragings in die uitreik van permitte en werksvisums vir die span wat BLO daarvoor gekontrakteer het. Inperking het die proses verder vertraag.
Tegnikuste sal na verwagting teen die einde van die week in die land aankom, om die stelsels se sertifisering op datum te begin bring.
Ander lughawens se status sal ook hierdie maand verval, maar landingstelsels wat reeds afgesit is, sal voorkeur geniet.
Instrument-landingstelsels word gebruik om vlieëniers te lei wanneer hulle ‘n aanloopbaan nader om te land, maar dit nie kan sien nie weens swak weerstoestande, soos reën, mis of sneeu.
Die sertifisering is vir 150 dae geldig, met ‘n 30 dae grasietydperk.
Daarna kan lughawens aansoek doen om dit met 25 dae te verleng en vir ‘n verdere 180 vrygestel word.
Gwebu het benadruk dat die land se lughawens geensins tot ‘n stilstand sal kom nie.
Volgens die BLO is hulle voortdurend in kommunikasie met alle rolspelers om te verseker vlugte gaan veilig voort.


×