100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Poskantoor maak plan met lang rye

Written by on January 11, 2021

Die tydelike R350-toelae van die regering wat sommige mense weens inperking ontvang, maar wat aan die einde van hierdie maand op ‘n einde kom, veroorsaak tans baie lang rye by poskantore.
Hulle het daarom ‘n dubbel-ry-stelsel geïmplementeer, waarvolgens die mense vir die R350 in ‘n aparte ry staan.
“Dit verhoed dat al die mense wat vir ander dinge daar is, te lank hoef te wag,” verduidelik Johan Kruger, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Poskantoor.
Dit is nou ook al ‘n maand sedert mense in Mpumalanga hul voertuiglisensies by sekere poskantore kan hernu.
Dit is Nelspruit, Sonpark, Witrivier, Malalane, Tonga, Mashishing (Lydenburg), Elukwatini, Bosbokrand, Thulamahashe, Ermelo, Ganala-Kriel, Siyabuswa, Mhluzi, Hendrina, Mapulaneng, Leraatfontein (Witbank), Standerton, Balfour en Volksrust. Ander sal eersdaags volg.
Volgens Kruger kry die diens nog nie soveel aftrek soos in ander provinsies nie, waar dit die gewildste transaksie by die poskantoor is, met meer as 3 miljoen mense landwyd wat hul lisensies daar hernu het in die laaste boekjaar.

Die diens is nou oral beskikbaar, buiten in die Wes-Kaap waar hulle nog met die provinsiale regering onderhandel.
Die LUR vir Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, Gabisile Shabalala, sê dit verhoog toegang tot lisensiedienste en verminder die druk op lisensiekantore waar bestuurslisensies steeds hernu moet word.
Volgens die SA-posdiens se streeksbestuuder, Thomas Mokoatlo, is dit ook voordelig dat poskantore Saterdae oop is (tussen 08:00 en 12:30), wat dit gerieflik maak vir mense wat kantoorure werk.
Daar is ook meer poskantore en nader aan mense se huise, as lisensiekantore.
By die poskantoor kan vlooteienaars ook hul lisensies in grootmaat hernu deur dit af te laai om geprosesseer te word en later weer af te haal.
Kontant, debiet- en kredietkaarte word aanvaar as betalingsmiddel. In Mpumalanga moet mense egter ‘n bewys van adres saambring, eerder as net hul identiteitsdokumente.


×