100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nog ‘n Mpumalanga-prins vermoor

Written by on January 11, 2021

Prins Andries Mbangelwa Mahlangu (67) is Saterdag voor sy huis in Weltevrede, Siyabuswa vermoor.
Hy was die voorsitter van die Ndzundza tradisionele stamgesag in Dr JS Moroka-munisipaliteit.
Volgens die provinsiale polisiewoordvoerder, brig. Leonard Hlathi, was hy in sy voertuig voor sy huis geparkeer, toe sy seun om ongeveer 20:15 skote hoor.
Hy het volgens die polisie twee mans sien weghardloop. Sy pa was bewusteloos en het oor die stuurwiel gelê.
Hulp is ontbied, maar Mahlangu is op die toneel dood verklaar.
Die polisie het gevra dat enigiemand met inligting wat in die ondersoek kan help, luit. kol. April Aphane by 082-302-6621 kontak.
Mahlangu se dood volg op ‘n ander prins se moord op 4 Januarie. Zwelithini Dlamini (47) is die aand deur ‘n onbekende man in sy huis in Matsulu geskiet terwyl hy saam met vriende geëet het.
Volgens Hlathi het die man in die huis ingestorm en, sonder om enigiets te sê, op Dlamini losgebrand.
Sy vriende kon skuil en is ongedeerd. Geen arrestasies is nog gemaak nie.
Enigiemand met inligting is gevra om kapt. Elvis Shabangu te kontak by 082-449-0339.

Die provinsiale polisiekomissaris, luit. gen. Mondli Zuma, het beide moorde ten sterkste veroordeel. Hy het ‘n beroep gedoen op die gemeenskap om die polisie in hul ondersoeke by te staan.
Jane Sithole, die leier van die DA in Mpumalanga, het in ‘n verklaring gesê hulle betreur Mahlangu se dood.
“Hy sal onthou word vir sy toewyding en groot bydrae tot die bou van ‘n sterk demokrasie in ons land,” sê sy. “Sy liefde vir sy mense sal sy nalatenskap bly.”



×