100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Mbombela-gesin het noue ontkoming toe bye hulle aanval

Written by on January 11, 2021

‘n Gesin van vyf is in Nelspruit Mediclinic opgeneem, nadat hulle gister deur ‘n groot swerm bye aangeval is.
Volgens Cobus Els van ER24 was die ouerpaar en drie kinders op ‘n natuurrit op ‘n plot by The Rest, naby waar hulle self woon, toe hulle oor ‘n byekorf gery het wat in ‘n buiteband gemaak was.
Die bye is deur die oop vensters by hul voertuig in, en die gesin het te voet gevlug.

Die oudste dogtertjie wat so 12 jaar oud geskat word, kon by ‘n huis alarm maak.
“Die oom het haar met water gesproei en gesê sy moet in die swembad spring. Hy het hulp ontbied en toe afgery om die res van die gesin te soek. Hy moes egter omdraai weens die swerm, kwaai bye.”
ER24 se paramedici het om ongeveer 18:15 daar aangekom. Volgens Els het die pa met sy kleuter en baba in ‘n vleiland geskuil.
“Ons kon naby genoeg kom om die kleuter en baba te kry en het met hulle na die plaashuis toe gejaag en hulle is per ambulans hospitaal toe geneem.” Die ouer dogtertjie is intussen ook weggeneem vir behandeling.
Nog paramedici het aangekom en die pa gehelp asook die ma gevind wat in haar paniek terug na die kar toe gehardloop het.
Hulle is honderde kere gesteek. Els sê hulle is baie gelukkig.
“Ek het nog nooit mense gesien wat so baie deur bye gesteek is nie,” sê hy. Almal was “wonderbaarlik” stabiel toe hulle by die hospitaal aankom.
Els se raad is dat, wanneer mense deur bye aangeval word, hulle eerder die karvensters toemaak en die bye wat reeds in die voertuig is trotseer en met hul voertuig vlug, oor die feromone wat bye afskei.
“Hulle sal jou kilometers ver jaag,” sluit hy af.



×