100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Poskantoor maak plan met lang rye

Written by on March 3, 2021

Die laaste drie syfers van elke begunstigde se ID-nommer sal voortaan bepaal op watter dag van die week hulle die spesiale Covid-19-toelae van R350 by die poskantoor kan afhaal.
Dit geld vir poskantore in Mpumalanga, Limpopo, Noordwes en die Vrystaat.
Maandae is vir 083 en 088, Dinsdae 084 en 089, Woensdae 080 en 085, Donderdae 081 en 086, en Vrydae vir 082 en 087 as die laaste drie syfers.
Verder is die eerste week van elke maand toegewy om maatskaplike toelae vir ou mense, mense met gestremdhede en kinders uit te betaal.
Die Suid-Afrikaanse Poskantoor se woordvoerder, Johan Kruger, verduidelik dat dit die nakom van sosiale afstand-reëls vergemaklik.
Dit verseker ook dat hulle elke dag almal kan help wat geld kom afhaal.

“Die poskantoor het ook verskillende rye by hul takke geïmplementeer om wagtye te verminder en om by die reëls oor sosiale afstand te hou,” voeg hy by.
Een ry is dus vir die begunstigdes van die spesiale Covid-19-toelae, en een vir alle ander transaksies.
“Dit verhoed ook dat mense moedeloos word wanneer hulle by die poskantoor aankom en daar is ‘n ellelange ry,” voeg Kruger by.
Werknemers sal in die ry alle ID-nommers nagaan om te verseker dat die stelsel korrek geïmplementeer word.
Vir meer inligting, kontak die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid (Sassa) by 080-060-1011, Maandae tot Vrydae vanaf 08:00 tot 16:00, of besoek hul webtuiste by sassa.gov.za.


×