100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike welsyn raak kreatief vir fondse

Written by on August 27, 2020

Welsynorganisasies moet weens inperking uit die boks dink om fondse in te samel.
Hoewel meer aktiwiteite onder vlak 2 van inperking toegelaat word, is bedrywighede steeds beperk.
Weens die reëls vir sosiale afstand, laat sommige winkelsentrums nie meer bewusmakingsdae op hul persele toe nie. Konserte en geleenthede is beperk tot 50 mense.
Die grootste probleem is egter dat die breë publiek minder geld het om te skenk, terwyl die organisasies heeltemal afhanklik is daarvan.
Verskeie plaaslike gemeenskapsorganisasies het tydens die hoër vlakke van inperking reeds planne begin beraam om op nuwe maniere die fondse in te samel wat hul werk moontlik maak.
KANSA Laeveld het ‘n tweedehandse winkel, 2nd Time Around, by Sonpark-sentrum oopgemaak.
‘n Boeremark word nou ook maandeliks by die sentrum aangebied.
Volgende naweek beplan KANSA om ‘n kolwyntjie-kompetisie by die mark aan te bied.
Nelspruit Hospice het op hulle beurt ‘n projek genaamd “Reflections”.
Soortgelyk soos Chair-A-Tea wat verlede jaar begin is, kan mense vanjaar ‘n spieël koop en versier. Dit sal later weer aanlyn opgeveil word.
Elmarie du Toit sê hulle wil graag hê dat mense ‘n storie by hul spieël sit.

“Covid-19 het ons almal se lewens so verander en ons wil graag die storie wat die tema van jou spieël verduidelik, met die koper deel,” sê sy.
Die spieëls is tot 16 Oktober by hul kantore in 84 Ferreirastraat beskikbaar teen R150 elk. Die spertyd om dit terug te besorg is 3 November. Daarna sal die veiling op 26 November sluit.
Hierdie naweek is Hospice Nelspruit ook die begunstigdes van The Rest se jaarlikse landloop. Dit sal oor die naweek virtueel aangebied word.
Skryf in by therest.co.za/virtual-trail-run.
Die Nelspruit DBV is in nood van kos vir hul diere.
Voorsitter Lize Pienaar sê hulle benodig tans veral katsand, skenkings vir hul welsynwinkel en kontant.
Jy kan ook ‘n kennel borg. Kontak hulle by 013-753-3582 of [email protected] vir meer inligting.


×