100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Plaaslike sakekamer voorspel ekonomie sal herstel – op die langtermyn

Written by on August 17, 2020

Plaaslike toeriste-operateurs is van die veerkragtigste wat sy ken. Daarom voorspel Linda Grimbeek van die Kruger-Laeveld-sakekamer dat die plaaslike ekonomie weer sal herstel.
Dit is egter op die lange duur, en sal nie binne enkele maande gebeur nie.
Amper alle sektore mag vanaf middernag heropen, ingevolge die nuwe regulasies.
Volgens Ramaphosa het Covid-19-gevalle in die meeste provinsies sy piek bereik.
Daar is egter kommer dat die inperking reeds te veel ondernemings se doppies geklink het.
Volgens Grimbeek was ‘n onderneming se oorlewing tydens inperking onderhewig aan hoeveel reserwes hulle gehad het. Herstel is egter ‘n ander storie.
Sy dink almal sal mettertyd weer op dreef kom, tensy hulle al voor inperking probleme ondervind het.

“Ek glo vas dat die oorgrote meerheid van ondernemings wat wel toegemaak het, eendag weer sal oopmaak,” sê sy.
“Dit sal dalk nie dieselfde naam hê nie, of die eienaar sal iets op ‘n ander plek oop gaan maak, maar solank daar ‘n mark is sal iets weer oopgemaak word. Die mark bepaal dit, nie wette nie.”
Vir Grimbeek is toeriste-operateurs ‘n groot kommer, omdat hulle afhanklik is van internasionale besoekers. Andersins sien sy ‘n ekonomiese ontploffing soos dinge oopmaak.
“Soos inperking gelig word en internasionale reise weer stabiliseer, sal die vraag weer daar wees en dan moet plekke weer oopmaak.”
Volgens die vlak 2 regulasies wat Maandag in die staatskoerant gepubliseer is, mag tot 50 mense troues en begrafnisse bywoon.
Vanaf middernag mag daar ook 50 mense op ‘n slag in ‘n gimnasium wees. Dieselfde geld vir die bywoon van konserte en besoeke aan teaters.
Tot 10 mense mag op ‘n slag sosiaal bymekaar kom by huise. Interprovinsiale reis word ook vanaf Dinsdag heeltemal toegelaat.
Hoewel drankwinkels net Maandae tot Donderdae, van 09:00 tot 17:00, handel mag dryf, kan mense by ‘n restaurant of kroeg tot 22:00 elke dag alkohol gebruik.
Kroeë is ook beperk tot 50 mense.
Nagklubs bly egter geslote. Internasionale reise vir plesier word ook nie toegelaat nie.
Airbnb’s mag wel vir die eerste keer sedert inperking begin het, heropen.
Geen toeskouers word by sportgeleenthede toegelaat nie en geen internasionale sport mag gespeel word nie.
Tabakprodukte is ook nie meer verbode nie. Die aandklokreël bly tussen 22:00 en 04:00 in plek.


×