100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Paasnaweek sonder ongelukke ‘n eerste vir TRAC N4

Written by on April 15, 2020

Daar was die afgelope Paasnaweek, vir die eerste keer in TRAC se 22 jaar, nie een ongeluk op die N4 snelweg nie.
TRAC N4 woordvoerder, Solange Soares, sê daar was egter in die verlede wel Paasnaweke waartydens geen noodlottige ongelukke plaasgevind het nie. Volgens Soares ervaar hulle tans sowat 30% van die padverkeer wat hulle onder normale omstandighede sou verwag het.
Sy skryf dit deels toe aan die inperking, wat verkeer grootliks tot noodsaaklike dienste, soos swaarvoertuie met kosvoorraad, beperk.
Sy glo ook dat die feit dat die pad minder besig is en dat alkohol nie vrylik beskikbaar is nie, groot bydraende faktore is.
In 2019 is 29 ongelukke wat een persoon se lewe in Mosambiek geëis het, oor hierdie tydperk op die N4 aangeteken.
In 2018 was daar ‘n totaal van 73 ongelukke in dieselfde tydperk.

Moeti Mmusi van die departement van gemeenskapsveiligheid sê hulle het sedert 2 April reeds 18 629 voertuie op Mpumalanga se paaie gestop.
Veertien padblokkades is op verskillende paaie wat die provinsie met naburige provinsies en lande verbind, opgestel.
Tien voertuie was onpadwaardig. Nagenoeg 14 motoriste is in hegtenis geneem vir verskeie oortredings.
Volgens Mmusi het die aantal noodlottige ongelukke met 77% gedaal teenoor verlede jaar se Paasnaweek met sewe sterftes teenoor 2019 se 31.


×