100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Oud-omroeper, Bokkie Taute, oorlede

Written by on August 26, 2021

Bokkie Taute, ‘n oud-omroeper by 100.5FM, is gisteraand in ‘n hospitaal in Pretoria weens Covid-19 verwante oorsake oorlede.
Sy was een van die eerste vroue-omroepers by Radio Laeveld en was betrokke sedert sy ontstaan 18 jaar gelede tot 2007.
Haar program se naam was “In almal se kraal” waar sy die gewilde “Vlooimark”, wat vandag steeds daagliks uitgesaai word, begin het.
Omroeper Amanda Botha wat Vlooimark oorgeneem het toe Bokkie die radio vaarwel toegeroep het, beskryf haar as die moeder van die radio.
“Daar is steeds mense wat my Bokkie noem, na al die jare wat sy weg is, want hulle assossieer Vlooimark steeds met haar,” sê sy.
“Sy het die mooiste kinderstories vertel. Storietyd is genoem ‘Klouter Kabouter’. Sy het klanke gemaak en dit só interessant gemaak. Soveel kleuterskole het elke dag ingeskakel vir haar stories.”
Bokkie se kollegas onthou haar as iemand wat baie gesteld was op Afrikaans en die suiwer gebruik daarvan, wat soms tot groot vermaak gelei het.
So het sy ‘n Sony Playstation wat tydens een Vlooimark te koop aangebied is, na ‘n “speelstasie” vertaal.
“Sy was streng oor hoe jy ‘n ding sê,” voeg Botha by. “Jy kon nie nets iets sê nie, jy moes weet waarvan jy praat,” sê Botha.
Bokkie het vir lank ook die middag nuusprogram saam met Roelf van Jaarsveld aangebied. “Ons het mekaar goed aangevul.”
Hy beskryf haar as iemand wat nie nonsens gevat het nie, en baie reguit was. “Sy was ‘n wonderlike, vriendelike mens wat Radio Laeveld op die hart gedra het,” voeg hy by.
Vanessa Roets onthou ook hoe streng sy was oor taalgebruik. “Sy sou jou sommer vinnig reghelp. Selfs tydens onderhoude sou sy mense stop met die korrekte Afrikaanse woord.

Radio Laeveld se destydse stasiebestuurder, Gert Booysen, sê sy was ‘n staatmaker op wie se knoppie jy altyd kon druk.
“Sy was ‘n rissiepit en hardekop, op ‘n goeie manier.”
Bokkie het twee dogters, Andri en Petro, en ‘n seun Willem. Haar kinders sê hul ma het nooit opgegee nie.
“Ons sal haar vir altyd onthou vir haar vasberadenheid en deursettingsvermoë om die wêreld beter te maak vir almal om haar, haar glimlag ten spyte van, haar lewenslus, haar liefde vir mense en haar onwrikbare geloof. Sy rus nou by Jesus, in sy vreugde, vrede en liefde.”
Luister weer hier na ‘n deel van een van haar programme, Baba Praatjies, uit 2006.


×