100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Ons Gee Om – Nelspruit help waar hulle kan

Written by on April 8, 2020

Ons Gee Om

Nelspruit se Thea Rix en Toy Bester werk tans harder as ooit tevore om kospakkies by mense in nood af te lewer. Rix is die Voorsitter van Nelspruit se Christelike Maatskaplike Raad (CMR) en Bester behartig die administrasie van die organisasie. Rix het in ʼn telefoniese onderhou vertel dat Bester ʼn paar jaar gelede met die idee vorendag gekom het om kos en ander middele aan mense in nood te voorsien.

Rix het intussen by die projek betrokke geraak en tans doen hulle dit op ʼn groter skaal. Die twee vra skenkings van die publiek en dit kan enigiets wees van kos en klere tot huishoudelike middele, werksaanbiedinge en selfs blyplek. Mense wat swaar kry of hulp nodig het, kan dan Ons Gee Om – Nelspruit skakel om enige behoefte te deel. Rix en Bester sal dan dadelik aan die werk spring om te kyk op watter manier hulle iemand kan help. Rix sê tans, tydens die nasionale staat van inperking en soveel mense wat sonder inkomste sit, is die nood veel groter as gewoonlik.

Hulle fokus dus nou op die verspreiding van kos en vra liewers dat die skenking van klere en huishoudelike items teruggehou word totdat dinge weer na normaal terugkeer. Dit is ook veel beter om nie-bederfbare kos te skenk aangesien die mense wat die kospakkies kry nie noodwendig ʼn yskas het nie. Tog is enige skenking welkom. “Dit is baie harde werk om al die pakkies te maak en dan af te lewer, of om iewers iets te gaan oplaai.

Tog kan ons nie anders nie want ons is albei passievol hieroor. Vir my en Toy is dit bitter swaar om te sien dat iemand honger ly of nie kos het om te eet nie. Dis wonderlik om ʼn verskil te kan maak in iemand se lewe en die dankbaarheid wat mense wat hulp ontvang openbaar, maak alles die moeite werd,” sê Rix. Enigeen wat op enige manier betrokke wil raak of wat enige skenking wil maak, kan die volgende twee nommers skakel:
Thea Rix – 0827712889
Toy Bester – 0814385373
Besoek https://www.facebook.com/onsgeeomnelspruit.elaine
  

 

 

 


×