100.5FM

#TrotsLaeveld

Current track

Title

Artist

Background

Nog twee verdagtes vasgetrek vir moord op Bontle

Written by on May 24, 2022

n Tradisionele geneser en sy seun het vandag in die Kabokweni-hof verskyn in verband met die moord op die sesjarige Bontle Mashiyane in Mganduzweni. Haar lyk is Saterdag ontdek, drie weke na sy op 30 April verdwyn het.
Samuel Tsela (63) en Philasande Tsela (28) is aangekla van ontvoering, verkragting en moord.
Volgens brig. Selvy Mohlana sal hulle op 24 Junie weer verskyn, saam met drie mense wat gister aangekla is.
‘n Veroordeelde moordenaar wat op parool vrygelaat was, Collen Hlongwane (36), het gister reeds verskyn saam met sy vriendin, Ntombi Ngwenya (40), wat ook ‘n buurvrou van Bontle is; asook Thapelo Ngomane (25).
Hulle is gister aangekla van mensehandel, sowel as haar ontvoering, verkragting en moord. Hulle het hul borgaansoek laat vaar.
Ngwenya het glo teenoor die polisie erken dat sy in 2019 haar susterskinders, Silindile en Ntokozo Sifunda, vermoor het, sowel as twee ander kinders.
Volgens berigte is Ngwenya, Ngomane en Tsela se huise gisteraand deur Mganduzweni-inwoners afgebrand.

Intussen het die DA weer ‘n beroep gedoen op premier Refilwe Mtshweni-Tsipane, om ‘n kinderkommissaris in Mpumalanga aan te stel. So ‘n mosie is reeds in Augustus deur die wetgewer aanvaar.
Trudie Grovè-Morgan sê daar is ‘n toename in die ontvoering, verkragting en moord van kinders in die provinsie.
“Ons kan nie bekostig om te sit en toekyk hoe sulke misdade teen kinders gepleeg word nie,” sê sy.
Sy sê ‘n kinderkommissaris, wat tans slegs in die Wes-Kaap bestaan, werk saam met ander rolspelers aan die voorkoming van geweld teen kinders asook die bevordering van hul veiligheid.


×